Local sportSport

Lanie hou Secunda se naam hoog

Lanie het onlangs eers begin rolbal speel en het sy natuurlike talent met ure se oefening opgeskerp.

SECUNDA – Die Sasol Secunda Rolbalklub se klubkampioen, Lanie Nel, is die naweek ook as die Hoëveldse kampioen van kampioene aangewys.

Die kampioenskap is op 26 en 27 Augustus op Standerton gehou en twee spelers van elke klub op die Hoëveld het deelgeneem.

Standerton en Ermelo het hul bes probeer, maar Secunda se manskampioen het triomfeer.

Elke speler het die naweek vyf wedstryde gespeel.

Lanie het sy eerste wedstryd met 19-21 verloor.

“Ek het nie my eerste wedstryd gewen nie, maar ek het nie moed verloor nie.

“Ek het net aanhou speel.

“Dit is belangrik dat jy kop moet hou.

“As ek agter is, laat ek dit my nie onder kry nie en sê vir myself om kalm te bly en te fokus.

“Selfs al is ek vier of vyf punte agter, herinner ek myself daaraan dat dit net twee koppe is, dan kan ek weer inhaal.”

Lanie het onlangs eers begin rolbal speel en het sy natuurlike talent met ure se oefening opgeskerp.

“Ek oefen lang ure en het ’n plan met my rolbal.

“As mens op die baan is en jy oefen, voel dit dalk soms soos tydmors, maar die dag wat jy ’n wedstryd speel, wys al dié oefening en is dit skielik die moeite werd.”

Lanie het die oorblywende vier wedstryde van die naweek gewen met tellings van onderskeidelik 21-10, 21-16, 21-10 en die finale telling van 21-20.

“Die laaste wedstryd was ’n belangrike een omdat ek en Colin Munro op daardie stadium albei nog kon wen.

“Dit was ’n moeilike wedstryd.”

Colin Munro en Piet de Klerk van Standerton het op die ou einde tweede en derde plekke behaal.

Die vrouekampioen is Elrina Greaves van Ermelo.

Sonja Mouton van Ermelo en Annetjie de Bruto van Standerton het tweede en derde plekke verower.

Lanie is dankbaar vir die geleentheid om te kan speel en sien veral uit na die Hoëveld mansenkels wat op 8 Oktober op Secunda gespeel word.

“Ek gaan aanhou oefen en aanhou hard werk.”

Sy motto is: “Passion always wins.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button