Verbeter jou spoed in atletiek
Mnr. Jannie Viljoen wil plattelandse atlete die kans gee om te presteer.
BETHAL – Mnr. Jannie Viljoen, beter bekend as Jannie Duimpie, het al baie steratlete opgelewer, waaronder Llewellyn Herbert en Riaan Dempers.
Hy het by verskeie geleenthede eretoekennings vir afrigting ontvang en is telkemale as afrigter van die jaar aangewys.
Mnr. Viljoen het in 1983 begin skoolgee en vlak 1 naellope- en hekkieskursusse voltooi.
Hy het ook later ’n vlak 2 kursus in naellope en hekkies voltooi en het sedert hy begin afrig het, provinsiale atlete opgelewer.
Twee Suid-Afrikaanse kampioene wat hy afgerig het, het in 1987 nie net medaljes gewen nie, maar ook rekords verbeter.
Mnr. Viljoen is ook later as die Vrystaatse afrigter van die jaar aangewys.
“Morné Nagel, Carel Hancke en Frikkie Cronjé was ook van my steratlete.
“Daar was baie nasionale medaljewenners vanaf laerskool- tot meestersatlete.
“Ek het later na Pretoria verhuis waar ek professioneel begin afrig het,” het hy gesê.
Mnr. Viljoen het sedert 1994 toekennings begin inryg en het ’n eretoekenning vir afrigting ontvang en as afrigter van die jaar deur Noord-Gauteng en Atletiek Suid-Afrika aangewys is.
“Suid-Afrikaners weet nie en verstaan nie meer wat spoedwerk is nie.
“Ek wil begin om atlete te help ontwikkel en van hulle vir die volgende Olimpiese Spele voorberei.
“My liefde vir atletiek dryf my om atlete die kans te gee om te bereik waarvan hulle droom.
“Dit is waarom ek sekere tegnieke na Suid-Afrika wil bring en op ons atlete toepas en waarom ek ’n kursus uitgewerk het oor hoe om spoed te ontwikkel,” het mnr. Viljoen verduidelik.
In elke sportsoort word spoed en ratsheid benodig en mnr. Viljoen gaan atlete en afrigters die geleentheid gee om dit te leer en op individuele atlete asook sportspanne toe te pas.
“Ek wil afrigters en onderwysers help om weer pret in oefening te bring.
“My hoofdoel is dat mense dit moet geniet en leer hoe om ’n kind vinnig en rats te maak,” het hy vertel.
Mnr. Viljoen gaan in Oktober ’n kursus aanbied sodat kinders in Mpumalanga kan uitstyg.
Dit vind vanaf 6 tot 8 Oktober by Hoërskool Hoogenhout plaas.
Afrigters, onderwysers en atlete wat belangstel, kan mnr. Viljoen kontak by speeda2310@gmail.com.




