Lolla gaan saam met Usain Bolt hardloop
Plaaslike atleet Lolla Mokoena gaan in Desember saam met Ussain Bolt en Yohan Blake oefen in Jamaika.
SECUNDA – Lolla Mokeoena is net 15 jaar oud maar haar deursettingsvermoë, harde werk en liefde vir atletiek het reeds groot belonings opgelewer.
Sy gaan vanaf 11 tot 19 Desember in Kingston, Jamaika, saam met atletieklegendes Usain Bolt en Yohan Blake oefen en die geleentheid kry om saam met Glen Mills, dié twee atlete se afrigter, aan ’n oefenprogram te werk.
Lolla het vroeg in haar lewe reeds aan atletiek begin deelneem en het eers ver gespring.
“Hoewel ek nou op kort hekkies fokus, het ek ook al die 100m en 200m gehardloop en ook aan 400m-hekkies deelgeneem.”
Lolla is tans ’n gr. 10 leerling aan Hoërskool Secunda en werk nou saam met mnr. Mike van der Walt, ’n IAAF-geakrediteerde afrigter en biokinetikus wat saam met dié hoërskool werk, maar ook oor die afgelope agt jaar ’n sterk privaat praktyk opgebou het.
“Haar ouer sussie het by my geoefen en haar ma het, toe Lolla nog op laerskool was, vir my gevra of ek haar ook kan afrig.
“Ek het haar getoets en ons het vir haar ’n oefenprogram uitgewerk.”
In daardie jaar is Lolla die eerste keer na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioneskap en het nog nooit teruggekyk nie.
Hoewel sy ’n natuurlike talent vir atletiek het, rus sy nie op haar louere nie en het verduidelik sy oefen werklik hard.
“Ek oefen ses dae ’n week, gewoonlik vir omtrent drie ure.
“Soms, as ek by die huis is, sal ek ook gaan draf as ek voel ek moet iets doen en ek beweeg die heeltyd, Mike weet al ek dans altyd!”
Sy kry haar motivering op verskillende plekke, maar sy is dankbaar vir die geleentheid wat sy het om saam met Mnr. Van der Walt te werk.
“Dis nie altyd maklik of lekker om so hard te moet oefen nie, maar ons het ’n lekker oefengroep.
“Ons is ’n groep atlete met verskillende sterk- en minder sterkpunte, so ons motiveer en druk mekaar en hou mekaar op ons tone.”
Lolla is veral dankbaar vir haar ouers se ondersteuning.
“My ouers is altyd daar vir my, hulle sal my rondry en sorg dat ek op die regte tyd op die regte plek is, rustig is en reg is om deel te neem.
“My ma doen ook baie moeite om te sorg dat ek die regte kos eet sodat ek my oefenprogram ten volle kan benut.”
Mnr. Van der Walt het verduidelik hoe hulle te werk gaan om Lolla vir deelneem voor te berei.
“Ek sê altyd vir my atlete dat die sleutel tot sukses balans is.
“Jou psigiese-, fisiese- en voedingvoorbereiding moet elkeen 100 persent reg wees.
“Dit werk saam in ’n driehoek en as een van die driehoek se bene nie reg is nie, sal jy nie suksesvol wees nie.”
Hoewel Lolla nog jonk is, is sy ’n doelgerigte jong atleet met ’n duidelike doel vir haar toekoms.
“Ek dink beslis aan die toekoms.
“Vyf jaar van nou af sien ek myself as ’n professionele atleet wat nie rondspeel nie.”
Sy is ook realisties oor die harde werk wat nog voorlê en is versigtig vir die moontlike struikelblokke.
“Ek dink een van die grootste struikelblokke vir ’n jong atleet kan selfvertroue wees,
“Dis maklik om dit op te bou en te probeer behou, maar dit is moeilik om weer op te staan as jy dalk ’n terugslag gehad het, en dis dan wanneer die harde werk begin.”
Lolla wil graag eendag gaan studeer en stel veral in menslike hulpbronbestuur belang.
Vir nou is sy egter opgewonde oor wat die nabye toekoms vir haar inhou.
“Ek is dankbaar vir Prommac en veral vir Jason, Melissa, Ellen en Diana.
“Dit is deur hulle wat ek die geleenthied gekry het om na Jamaika te gaan.
“Hulle het my tye en inligting ingestuur sonder dat ek dit eers geweet het
“Ek was verbaas en dankbaar en opgewonde, alles op een slag, toe ek die nuus gekry het.”
Haar hoofdoel vir Desember is om soveel as moontlik te leer.
“Ek wil gaan kyk waaroor atletiek vir dié ouens gaan en wil my en hul oogpunte vergelyk sodat ek my planne vir die toekoms kan aanpas of versterk as ek moet.”
Mnr. Van der Walt het gesê: “Wade van Niekerk en sy afrigter, Tannie Ans Botha, het ook saam met Usain Bolt gaan oefen voor die afgelope Olimpiese Spele en ons weet hoe goed Wade presteer het.
“Dit sal ’n ongelooflike geleenthied wees om deel te kan wees van die oefenkamp en om saam met die atlete te kan groei en te leer.”
Lolla en mnr. Van der Walt het nog ’n ver pad om te stap, maar dié atleet en haar afrigter sien kans vir die harde werk wat voorlê.




