Helpende Hand sê dankie
Solidariteit Helpende Hand Bethal het Saterdag, 8 Oktober ’n gholfdag by Walkerpark aangebied.
EVANDER – Solidariteit Helpende Hand se Bethal-tak het Saterdag, 8 Oktober ’n gholfdag by Walkerpark Gholfklub aangebied.
Die doel was om geld vir Helpende Hand in te samel.
Spelers mag glad nie ’n oefenhou by putjie 1 geslaan het nie anders is hulle met R10 per hou beboet.
Dié geld is vir ’n studiebeurs ingesamel.
Daar is ook ’n malvalekkerkompetisie gehou, waartydens spelers vir R10 ’n malvalekker tussen twee afskortings moes slaan.
Die speler wat die malvalekker tot naaste aan ’n sekere merk kon slaan, se naam is by die gelukkige gevoeg waartydens ’n stel potte gewen kon word.
Taferonde Secunda 231 het by putjie 13 gehelp om R5 400 vir liefdadigheid in te samel.
Thembeka Wear Linings het al die pad van Heidelberg gekom om die dag te ondersteun.
RW Smit en DJ Smit het die dag met 51 punte gewen, met Danie Heese en Corné Jansen in die tweede plek met 49 punte.
Christo Jansen van Rensburg en Andries Steyn was derde met 48 punte.



