Berfietsryers geniet Enduro
Die opwinding van gesonde kompetisie en aflosspanne het die Le Mans Enduro-bergfietswedren uniek gemaak.
SECUNDA – Bergfietsentoesiaste kon onlangs aan die Le Mans Enduro-bergfietswedren op Secunda deelneem.
Die wedren kry sy naam van die bekende 24uur Le Mans-motorwedren af waartydens bestuurders aan die begin van die wedren na hul voertuie toe moet hardloop en deurlopend deur spanlede afgelos word.
Mnr Hein Schmidt van MegChem Fietsryklub het verduidelik dat die Le Mans Enduro-berfietswedren ook ’n soort ‘hardloopbegin’ gehad het.
“Daar was ook ’n spanoorgangssone, baie soos die kuipe van die motorwedren waar die fietsryers net kon loop of hardloop.
“Tydens die fietswedren het die ryers ook meestal in spanformaat deelgeneem en mekaar afgelos, maar die fietsryers neem elkeen op sy eie fiets deel, nie soos die motorwedren waar hulle dieselfde voertuig tussen die vier bestuurders gebruik nie.”
Spanne kon self onder mekaar besluit wie ry wanneer en hoeveel rondes elkeen ry voordat hulle aan die volgende ryer oorhandig.
Daar was wel ryers wat alleen deelgeneem het.
“Die oogmerk van die fietswedren was om die meeste rondes per kategorie in die ses ure af te lê.”
Top Fix het die 200m-brug oor die pad vir die Springfest gebou en die fietsryers het daarvan gebruik gemaak vir die ses uur lange bergfietswedren.
MegChem Fietsryklub het ’n waterdryfbrug in Lake Umuzi gebou vir die ryers om as deel van die roete aan te pak.
Daar was ook dele waar hulle deur vlakker dele van Lake Umuzi moes ry.




