Local sportSport

Danie speel gholf vir Mpumalanga

“My grootste droom is om eendag saam met Rory Mcilroy en Tiger Woods te speel en om die PGA-toernooi te wen.”

BETHAL – Danie Strydom (11) speel gholf sedert vierjarige ouderdom en het op 11 September die bronsmedalje vir bywoning ingepalm en Mpumalnga-erekleure ontvang.

Danie is ook vir die 0/13 Suid-Afrikaanse gholfspan gekies wat vanaf 3 tot 6 Oktober op Killarney aangebied is.

Hy is ook in sy eerste mededingende jaar vir die Mpumalanga-span gekies.

“Ek het eers net saam met my pa en oupa gestap wanneer hulle gholf gespeel het en het later gholfballe begin slaan en goed reggekom.

“My oupa het my toe leer gholfspeel,” het Danie vertel.

Hy het in 2013 vir die eerste keer aan ’n kompetisie deelgeneem.

Die gesin het vir ’n rukkie op Welkom gewoon waar Danie by ’n professionele gholfspeler, Omar Sandy, lesse geneem het.

Hy is daar in die ontwikkelingspan van die Vrystaat opgeneem.

Danie is ’n leerling aan Laerskool Marietjie van Niekerk en is ook deel van dié skool se gholfspan.

Hy het al vleispryse tydens kompetisies wat op Vrydae aangebied word, gewen en het ook al ’n prys vir naaste aan die pen gewen.

“Tiger Woods is vir my ’n goeie rolmodel, want hy speel nog altyd goeie gholf.

“My grootste droom is om eendag saam met Rory Mcilroy en Tiger te speel en om die PGA-toernooi te wen.

“Sodra ek oud genoeg is, wil ek na Ernie Els se gholfskool gaan,” het Danie opgewonde gesê.

Hy het op meer as 10 bane in die land gespeel en sal graag ook op St Andrews in Skotland wil speel.

Danie was verlede jaar deel van die Junior Hoëveldrifseunsspan en het in sy afdeling gewen.

Hy is verlede jaar as Laerskool Marietjie van Niekerk se gholfspeler van die jaar aangewys.

Danie was vanjaar deel van die Mpumalanga Junior C-afdelingspan waar hy ook in sy afdeling gewen het.

Hy het gesê: “My oupa, Marius Delport, ondersteun my baie.

“Ek en hy speel saam gholf en hy neem my ook na meeste van die kompetisies.”

Danie oefen gereeld sy kaphoue agter in die erf en laat nie ’n oomblik verbygaan om gholf te speel nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button