Bethal Bears klop Piet Retief
Die Bears eindig die eerste helfte van die seisoen op 27 punte, met Sasol tweede met 23 punte.
BETHAL – Piet Retief het onlangs die knie voor Bethal Bears Krieketklub gebuig tydens ’n wedstryd by Hoërskool Hoogenhout.
Bethal het eerste geboul en die toestande goed gebruik om Piet Retief onder groot druk te plaas.
Ashley Methuala en Jean Greyling het skitterend geboul en geen swak balle vir die Piet Retief-kolwers gegee om lopies van te kry nie.
Johan Stadler het die beste boulsyfers van 4/28 in agt beurte gehad.
Piet Retief het 136 lopies aangeteken.
Die Piet Retief-boulers het goed begin en ’n paar vinnige paaltjies laat kantel.
Drikus Pentz en Tim van Biljon van Bethal het met aggressiewe kolfwerk nader aan die totaal gekom voordat Van Biljon sy paaltjie verloor het en Piet Retief weer asem geskep het.
Duane Botha het by Pentz aangesluit wat skitterend gekolf en 69 lopies van 59 balle aangeteken.
Botha en Pentz het verseker dat die Bears die wentotaal in die 21ste beurt behaal het.
Koos du Preez van die Bears het gesê: “Ons is bly ons is steeds bo-aan die punteleer en sien uit na die tweede helfte van die seisoen.”
Die Bears eindig die eerste helfte van die seisoen op 27 punte, met Sasol tweede met 23 punte.
Bethal se volgende wedstryd is teen Sasol 1 op 14 Januarie.



