Sasol Stoeiklub seëvier by provinsiale prysuitdeling
Sasol Stoeiklub het verskeie toekennings ontvang tydens die onlangse Mpumalanga Stoeivereniging se prysuitdeling.
SECUNDA – Verskeie lede van Sasol Stoeiklub het tydens die onlangse Mpumalanga Stoeivereniging se jaarlikse prysuitdeling wisseltrofees en toekennings ontvang.
Nathan Webb het ’n afrigters bronsmedalje verwerf en Nico van den Berg die afrigters goue medalje.
Morné Erasmus het die afrigters langtermyn ontwikkelingsvlak 1 gewen en Brandon Rokebrand die skeidsregters silwermedalje.
Denise Möhr het die spanbestuurders silwermedalje verower.
Hans Schutte, Stefan Slabbert, Ludolph Steenkamp en Anru van Zyl het elkeen hul volledige Pummatjie-skild met 10 knopies op, asook hul Pummatjie-hempies gekry.
Sasol Stoeiklub het die Mpumalanga Presidentsliga vir 2016 en die beste mediadekking aan stoei vir 2016 gewen.
Brandon Rokebrand was die provinsiale skeidsregter van die jaar en Nathan Webb die kadetstoeier wat die beste presteer het in 2016.
Jordan Webb is aangewys as die stoeier wat die beste deurlopende deelname aan die langtermyn deelname ontwikkelingafdeling gehad het.
Nico van den Berg het verskeie wisseltrofees ontvang wat onder andere insluit:
Vlak 3 afrigter met die hoogste punte vir 2016, junior stoeier met die beste prestasie in 2016, mees gevorderde Grieks-Romeinse stoeier vir 2016, mees wetenskaplike junior en senior stoeier vir 2016, stoeier met die meeste gesamentlike prestasies op alle Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir 2016, stoeier wat die meeste agtereenvolgende kere Suid-Afrikaanse kampioen in die Grieks-Romeinse afdeling was, naamlik ses jaar agtereenvolgends.
Nico het ook sy Junior Proteakleure ontvang in 2016.
Die president van Sasol Stoeiklub het gesê hy is trots op al die lede van Sasol Stoeiklub.
“Hulle het voorwaar die klub se naam hoog gehou.”
Hy het ook die media vir hul getroue dekking van die klub se prestasies, bedank.
“As dit nie daarvoor was nie, sou Sasol Stoeiklub nie die wisseltrofee vir die beste mediadekking in 2015 en 2016 kon ontvang nie.”




