Drie oud-Bokke by manne-aand
André Pretorius, Werner Swanepoel en Braam van Straaten vertel van die ou dae.
SECUNDA – Oud- Springbokrugbyspelers het gesig gewys tydens Hoërskool Secunda se manne-aand Vrydag, 25 November.
Hulle is Werner Swanepoel wat 20 wedstryde vir die Springbokke gespeel het, Braam van Straaten wat 21 wedstryde vir die Springbokke gespeel het en André Pretorius wat 31 wedstryde vir die Springbokke gespeel het.
Die geleentheid is deur die seremoniemeester, mnr. Wicus van der Merwe, op 25 November by Sasolklub gelei.
Mnr. Greg Muller, hoof uitvoerende beampte van Investec Rugby Akademie, het gesê: “Ons het ingekoop by Hoërskool Secunda om die leerders die nodige ‘tools’ te gee om verder te kan gaan in hul rugbyloopbane en ’n sukses van hulself in die lewe te maak.
“Die eienaar van die akademie is mnr. Dick Muir en hy het die konsep by mnr. Murray Mexted en mnr. Sean Fitzpatrick van Nieu-Seeland gekoop.
“Die idee is om Springbokke betrokke te kry om jong mans die tegniese aspekte te leer wat die afrigters nie altyd weet nie om hulle op die volgende vlak te kan kry.”
Mnr. Pretorius sê: “Dit is belangrik vir die senior spelers om op te staan en leiding te neem om die Springbokke op te tel om weer ’n wenspan te kan wees.”
Mnr. Muller sê: “Werner Swannepoel was een van die beste skrumskakels in sy tyd gewees en was ongelukkig om in dieselfde era as Joost van der Westhuizen te speel omdat ons weet hoe goed Joost was.”





