Neil Parson is ’n staatmaker van Bethal Bears
Neil het 254 klubwedstryde vir Bethal Bears gespeel en het 3 400 klublopies op sy kerfstok.
BETHAL – Neil Parson het die veld gedeel saam met ’n paar krieketlegendes van die gebied, soos Eugene Pieters, Jannie van der Merwe, George Plowman, Gert Kemp van Sasolklub, Katrol Venter van Ermelo en Frans Kruger en Jore Nortje van Standerton.
Hy kyk op na hulle en sal ook eendag as ’n legende gesien wil word.
Parson het in 1998 by die Bethal Bears aangesluit en het nie teruggekyk nie.
“Van my hoogtepunte by die Bears sluit al die wedstryde teen Sasol in waartydens ek gewoonlik goed presteer het.
“Ons liefdadigheidswerk waar ons kos vir die DBV, klere vir die SAVF en sportbloedskenkdae gereël het, staan ook vir my uit.
“Die grootste hoogtepunt van my loopbaan was die 2015/2016-seisoen toe die Bears die Mpumalanga Premierliga gewen het.
“Dit was ’n ongelooflike voorreg om op dié hoë noot uit klubkrieket te tree.”
Parson het 254 klubwedstryde vir Bethal Bears gespeel, ’n klubrekord, an altesaam 3 400 klublopies aangeteken.
“My liefde vir krieket, Bethal Bears Krieketklub en al die vriende saam met wie ek naweke gespeel het, was ’n groot dryfkrag in my lewe en sal dit altyd bly.
“Daar is nou ’n ongelooflike groep jong spelers wat die Bears op die vlak kan hou om elke seisoen in die liga te kan meeding.”
Parson dien sedert 2001 op die Bethal Bears se komitee waar hy ook verskeie ampte beklee het, onder andere dié van voorsitter, klubkaptein en tesourier.
Bethal Bears Krieketklub het vier keer in die laaste vyf jaar die prys vir beste klubadministrasie gewen.
Dit is ’n prestasie waarop die klub trots is en hard voor gewerk het.
Parson het ook as die direkteur van klubkrieket op die Mpumalanga Krieketraad gedien en is tans die voorsitter van die Gert Sibande Distrik krieketkomitee.
Hy is steeds by die Bethal Bears betrokke as die spanbestuurder en bestee steeds meeste van sy naweke op die veld as skeidsregter.
Parson het sy provinsiale skeidsregterkursus voltooi.
“Krieket in Gert Sibande is sterker as ooit en ek hoop dat ’n klub van ons streek weer dié seisoen die liga gaan wen. ”




