Pumas vertrap Namibië op Secunda Sasolklub se rugbyveld
Die Sasol Digimag-rugbyklub se spanne meet hierdie naweek weer kragte teen Middelburg en Bethal in die Protours Premiers- en Burgemeesters-ligas.
SECUNDA – Die iCollege Pumas het Saterdag, 16 Junie die Namibiese span op die Secunda Sasolklub se rugbyveld laat les opsê.
Hulle het die besoekers met bykans ’n trippelsyfer geklop. Die eindtelling was 94-03 in die iPumas se guns.
Die wedstryd is volgens die Pumas-kamp op Secunda gehou omdat Supersport hulle versoek het om die spel meer toeganklik vir almal in die provinsie te maak.
Die iCollege Pumas het sedert die afskop die punte begin inryg.
Renier van Rooyen, die Pumas se skrumskakel, het in ’n japtrap twee drieë na mekaar gedruk. Die losskakel Chris Smit het albei verdoel.
Daarna het die Pumas se heelagter, Devon Williams, en regtervleuel, Morné Joubert, goed saamgewerk om die punte te laat inrol. Albei het ’n paar keer agter die pale gaan kuier, maar het darem ook hul spanlede kans gegee om die Namibiërs se doellyn te verken.
Die rustydtelling was 54-0 in die Pumas se guns.
Die tweede helfte het slegs effentjies beter verloop vir Namibië. Dirk von Weidts wat in die nommer 20-trui vir Namibië uitgedraf het, het sy span se enigste punte aangeteken met die slaag van ’n strafdoel.
Sy span het hard gepoog om deur die verdediging van die Pumas te breek, maar die enkele kere dat daar wel ’n opening vir hulle was, was hul kraglopies van korte duur weens hanteringsfoute en ’n glibberige bal.
Die Pumas het dit tot hul voordeel gebruik en weer die punte laat inrol. Hulle het op die einde 14 drieë gedruk waarvan 12 verdoel is.
Die ander puntemakers vir die Pumas was Willie Engelbrecht, agsteman, Simon Westraadt, haker, Hennie Skorbinski, binnesenter, en Stefan Ungerer in die nommer 21-trui.
Die Sasol Digimag Rugbyklub se spanne meet die naweek weer kragte met Middelburg en Bethal in die Protours Premiers- en Burgemeestersligas.
Sasol 3 skop om 1nm af teen Bethal 2. Die tweedespan se wedstryd teen Middelburg 2 begin om 2.30nm en die eerstespan skop om 4nm af teen Middelburg se eerstes.
Sien meer fotos hier: [GALLERY] iCollege Pumas verslaan Namibië in kragmeting op Secunda



