Smit Steyn Malboer van Secunda verskyn Maandagaande op televisie
Smit veg weer op Saterdag, 30 Junie.
SECUNDA – Smit Steyn (30) is een van die deelnemers wat gekies is om aan die realiteitstelevisiereeks “Searching for a Scrap”, wat deel van die Fightstar Gevegkunskampioenskap is, deel te neem.
Dit is die tweede reeks van dié realiteitsprogram wat Maandagaande op StarSat uitgesaai word.
Deelnemers neem video’s van hulself waar hulle oefen en werk en van hul familielewe en dit word dan uitgesaai.
Steyn meet Saterdag, 30 Junie kragte met sy teenstander in die halfeindronde.
Die wenner van die reeks kry ’n kontrak en borge ter waarde van R200 000.
Steyn se pad met gevegkuns het begin toe hy jare gelede saam met Cedric (The Dominator) Doyle by ’n klub by Graceland begin oefen het.
Hy het egter heeltemal opgehou oefen om sy vrou by te staan toe hul oudste kind gebore is.
In dié tyd het hy net gekuier en motorfiets gery.
Sy tweede kind, ’n dogtertjie, is ook gebore en toe sy twee jaar oud was, het Steyn vir Doyle in die dorp raakgeloop.Doyle het hom oortuig om weer te begin oefen.Steyn was een van die eerste vegters wat by Doyle se klub, Dominator’s Den, aangesluit het.
“Ek het 96kg geweeg toe ek by Cedric begin oefen het en was lekker vet,” het Steyn gesê.
Hy weeg nou 76kg en oefen daagliks.
Steyn moet 70kg vir sy volgende geveg weeg.
Hy volg ook ’n spesiale dieet om sy gewig onder beheer te hou en genoeg spiere te bou.
Steyn het ’n paar beserings opgedoen en was vir ses maande uit die gevegkunsarena, maar oefen nou weer.
Hy het intussen drie groot gevegte gehad en al drie gewen.
Van die vegters teen wie Steyn geveg het, is meer ervare as hy en hy moes uithaal en wys om hulle te klop.
Sy volgende groot geveg is Saterdag, 30 Junie wat op StarSat uitgesaai sal word.
Dit sal Steyn se eerste geveg teen ’n titelhouer wees.
Steyn het op ’n plaas buite Kinross grootgeword en vandaar sy bynaam, Malboer, in die gevegkringe.
Hy woon nou op Secunda, maar huur ’n stukkie grond buite die dorp waar hy naweke en in sy vrye tyd met blesbokke boer.
Hy werk voltyds as ’n sweisinspekteur op Sasol.
Een van sy ander stokperdjies is om motorfiets en vierwielmotorfiets te ry en hy ry graag met sy Superbike na Loskopdam vir ’n naweek.




