Sasol Digimag se eerstes klop Middelburg
Hoewel daar met tye lank in Sasol se kwart- en doel-gebiede vertoef is en die Middelburgers allerlei kraglopies en plettervalle probeer het, het Sasol se verdediging nie bes gegee nie.
SECUNDA – Die Sasol Digimag-rugbyklub se gedugte verdedigingslinie en blitsige hardlopers het Saterdag, 23 Junie gesorg dat die span die oorhand oor die eerstespan van Middelburg gekry en behou het.
Sasol Digimag het die Middelburgers met 41-7 geklop tydens hul kragmeting op Secunda in die Pro Tours Premiersligareeks.
Sasol se Ruan van der Colff, toekantflank, het binne die eerste minute van die wedstryd sy span se eerste drie agter die pale gaan plant. Skrumskakel Jannie van der Merwe het die drie maklik verdoel.
Middelburg het sommer gou daarop geantwoord met ’n drie van hul eie toe Sasol balbesit vanuit ’n skrum bekom het, maar die bal in hul kwartgebied laat val het en die Middelburgse senter, Louis Roos, dit onderskraap en ’n drie gaan druk het.
Hul losskakel, Gerhard Munroe, het die drie verdoel wat die puntestand op 7 elk gebring het.
Sasol Digimag se linkervleuel, Bertie Visser, het egter gou die telbord weer aan die rol gesit met ’n vinnige drie wat deur Van der Merwe verdoel is.
Van der Merwe se ingestelde skopskoen het daarna die bal weer vir ’n strafdoel deur die pale gestuur.
Die telbord was toe op 17-7 in Sasol se guns.
Van der Merwe het byna vir ’n merkwaardige stafdoel gesorg toe hy probeer het om die bal vanaf die middellyn skuins deur die pale te stuur. Asems is opgehou totdat sy voet die bal getref het.
Die bal het dit net-net met sowat meter gemis en vlak voor die pale te lande gekom.
Sasol het kort daarna vir dié teleurstelling opgemaak toe hul pak spelers in ’n bondel hul pad oor Middelburg se doellyn gestoot en Wian Prinsloo, oopkantflank, die drie gepen het.
Die drie is egter nie verdoel nie en teen rustyd het Sasol Digimag met 22-7 voorgeloop.
Sasol se manne het in die tweede helfte teruggekeer met die doel om geen verdere punte aan Middelburg af te staan nie. Die slot Calvin Clack het sommer dadelik die Middelburgers se doellyn in sy visier gehad.
Die fluitjie vir die afskop van die wedstryd was skaars stil, of Clack gaan maak ’n draai agter die pale. Die verdoeling het die puntetelling na 29-7 opgestoot.
Hoewel daar met tye lank in Sasol se half- en kwartgebiede vertoef is en die Middelburgers allerlei kraglopies en plettervalle probeer het, het Sasol se verdediging nie bes gegee nie. Die Middelburgers kon net nie deurbreek om by die pale uit te kom nie.
Die volgende punte het gekom toe Sasol se spelers weer soos een man saamgemaal en ’n pad na die doellyn oopgestoot het sodat haker Lenro Vergottini ’n drie kon druk. Fanie Booysen, losskakel, het die drie verdoel om Sasol se voorprong na 36-7 te vergroot.
Bertie Visser het daarna met ’n mooi hardloopvertoning ’n pragdrie in die hoekie aan die pawiljoen se kant gedruk wat Booysen ook verdoel het.
Die eindtelling was 41-7 in Sasol Digimag se guns. Hanco Nel is as die span se voorspeler van die wedstryd aangewys, terwyl Theuns Kruger as die agterspeler van die wedstryd gekroon is.
Sasol Digimag se tweedespan het hul wedstryd teen Middelburg 2 met 66-0 gewen. Die wedstryd was deel van die Premiers-reserweligareeks.
Edmund Soule (buitesenter), Wessel Booysen (losskakel), Jaco de Vos (regtervleuel), Anwar Fillis (binnesenter), Evan Wessels (flank) en Anver January (reserwe) het elk ’n drie gedruk.
Eddison Mphuthi (linkervleuel) en André Schwab (slot) het vir twee drieë elk gesorg.
Steyn van der Heever, skrumskakel, het in die eerste helfte vir drie verdoelings gesorg en so ses punte vir sy span besorg. Righ Potgieter het in die tweede helfte ses drieë verdoel.
Evan Wessels is as die voorspeler van die wedstryd aangewys en die spoedvraat Eddison Mphuthi het ’n welverdiende belonging ontvang as die agterspeler van die wedstryd.




