Sport

Sasol Digimag se tweeses verslaan Highlanders in halfeindstryd om die premiersreserweliga se titel

Die halftydtelling was 48-0 in Sasol se guns.

SECUNDA – Die Sasol Digimag tweede rugbyspan se wedstryd teen die Newcastle Highlanders is Saterdag 28 Julie met die tuisspan se 100 punt-telling kortgeknip.

Sasol 2 het die Highlanders met 100-0 verslaan in die halfeindstryd van die premiersreserweliga wat op Sasol se tuisveld gespeel is.

Ondanks hul naam, was die Highlanders van meet af nie teen die tuisspan opgewasse nie – nie in rugby nie en ook nie fisiek nie. Sasol se spelers het soos reuse oor die besoekers getoring.

Die wedstryd het skaars afgeskop of Sasol Digimag se tweedes het die punte laat inrol.

Steyn van der Heever, skrumskakel, het eerste ’n buiging onder die pale gaan maak, gevolg deur Edmund Soule, binnesenter, Johan van der Merwe, oopkantflank, Evan Wessels, agsteman, en Hancu Nel, toekantflank.

Jacobus Byleveldt, heelagter, was daarna aan die beurt en toe Toby Molefe, binnesenter. Byleveld en January het elkeen ’n drie verdoel en Van der Heever twee voordat die rustydfluitjie geblaas het.

Die halftydtelling was 48-0 in Sasol se guns.

Met die aanbreek van die tweede helfte was dit duidelik dat Sasol vir 100 punte op die telbord mik.

Anver January, plaasvervanger op nommer 20, het dadelik die bal opgeraap en onder die pale gaan kuier. Die drie is deur Van der Heever verdoel.

Skaars was die nuwe puntestand op die telbord, of kaptein Dirk Lowies, losskakel, het vir sekerlik die skouspelagtigste drie gesorg. Hy het in die hardloop na die doellyn gestruikel, maar die bal stewig vasgehou, ’n bolmakiesie geslaan, op sy voete beland en toe die drie gedruk. Die drie is egter nie verdoel nie.

So is die volgende drie wat deur Byleveldt gedruk is, nie verdoel nie, maar Van der Heever het daarvoor opgemaak met die daaropvolgende drie wat ook deur January tussen die pale geplant is.

Lowies het weer ’n drie gedruk wat Van der Heever vlak voor die pale verdoel het.

Haker André Wittstock het vir die laaste punte op die telbord gesorg voordat die wedstryd stopgesit is. Hy het die drie onder die pale gedruk en ook sy eie drie verdoel.

Die Sasol Digimag eerste- en tweedespanne speel op 11 Augustus tuis in die eindstryde wat op Secunda gespeel word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button