Local sportSport

Nicolien wil in Engeland krieket speel

Haar ma het haar talent raakgesien en vir die skool gevra of sy saam met die seuns kon krieket speel. Sy het in gr. 4 proewe saam met die seuns gespeel en Laerskool Goedehoop se krieketspan gehaal.

SECUNDA – Nicolien Janse van Rensburg (18), ‘n matriek-leerder aan Hoërskool Secunda, wil volgende jaar voltyds krieket in Engeland speel.

Dié jong krieketspeler het reeds toe sy in die laerskool was saam met haar boetie, mnr. JP Janse van Rensburg, begin krieket speel.

Haar ma het haar talent raakgesien en vir die skool gevra of sy saam met die seuns kon krieket speel.

Sy het in gr. 4 proewe saam met die seuns gespeel en Laerskool Goedehoop se krieketspan gehaal.

Sedertdien kyk Janse van Rensburg nie terug nie en het nou selfs met van die Protea-vrouekrieketspelers skouers geskuur en saam met hulle geoefen.

Sy en die Protea-spelers, Laura Wolvaardt, Nadine de Klerk en Sune Luus is deesdae goeie vriende.

“Sjoe, hulle speel baie goed, jy voel jy moet ekstra goed speel daar,” het Janse van Rensburg gesê.

“Ek het baie geleer toe ek saam met hulle gespeel het.”

Nicolien Janse van Rensburg saam met die Protea-krieketspeler, Sune Luus.

Sy het vandat sy in gr. 8 was jaarliks die Mpumalanga 0/19-span gehaal, asook die Mpumalanga senior-span.

Die Mpumalanga senior-span se eerste wedstryde vir die jaar vind in Februarie plaas.

Janse van Rensburg vaar akademies goed op skool met ‘n gemiddeld van 70 persent en sy is ‘n prefek vanjaar.

Haar pa boer buite Bethal op ‘n plaas en Janse van Rensburg woon in die week op Secunda, maar geniet dit om naweke plaas toe te gaan en in die natuur te wees.

“Ek hou van jag en visvang,” het sy gesê.

Sy blink ook uit in spiesgooi en het verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deelgeneem en vyfde geëindig.

In haar laaste jaar van laerskool het sy ook by die Suid-Afrikaanse Atletiekkamioenskap uitgeblink in spiesgooi en tweede geëindig.

Nicolien Janse van Rensburg in aksie op die krieketveld. (Foto: John Tee. rjt@telkomsa.net).

Krieket is egter die sport wat haar hart vinniger laat klop en sy het vanjaar besluit om nie meer hokkie te speel nie sodat sy meer op haar krieket kan fokus.

“Ek hou meer van krieket as van spiesgooi. In die laerskool was spiesgooi vir my lekkerder, maar nou verkies ek krieket.”

Janse van Rensburg het vir ‘n paar jaar klubkrieket vir ‘n klub op eMalahleni (Witbank) gespeel, want ‘n mens moet klubkrieket speel om vir die Mpumalanga-span in aanmerking te kom.

Sy speel nou egter vir Sasol Krieketklub se vroue-span.

As haar planne om ná skool voltyds vir ‘n klub in Engeland krieket te speel nie uitwerk nie, wil sy sportsielkunde gaan studeer en steeds krieket vir die universiteitsspan speel.

Nicolien Janse van Rensburg saam met die Protea-krieketspeler, Laura Wolvaardt.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button