SECUNDA – Sasol Krieketklub het die afgelope naweek behoorlik geseëvier en al vyf hul wedstryde gewen.
Die Sasol Griffons het op Saterdag, 1 Februarie, op Ermelo met Ermelo 2 kragte gemeet in die promosie-liga en 360 lopies vir ses paaltjies in 40 boulbeurte aangeteken.
Gerhard Henn het 160 lopies aangeteken en Nicolien Janse van Rensburg het 70 lopies aangeteken.
Ermelo kon slegs 114 lopies aanteken.
Die Griffons se JC Roarty het drie paaltjies laat kantel en James Mendoza het ook drie paaltjies laat kantel.
Die Sasol Griffons is as die Gert Sibandestreek se promosie-ligawenners gekroon.

Sasol se Kinross-span het gewen omdat Standerton nie in staat was om hul span voltallig te verteenwoordig nie.
Sasol 2 het ook op Saterdag, 1 Februarie met die Bethal Bears by die Sasol Ontspanningsklub in die Gert Sibandestreek se premiersliga kragte gemeet.
Sasol 2 het eerste gekolf en daarin geslaag om 222 lopies, almal uit, in 50 boulbeurte aan te teken.
Douglas Richardson het 133 lopies, nie uit nie, aangeteken en Sasol 2 het die Bethal Bears vir slegs 65 lopies uitgeboul.
Nicus Boshoff van Sasol 2 het vier paaltjies laat kantel.
Sasol 2 het op Sondag, 2 Februarie weer op die veld gedraf, dié keer teen Standerton.

Sasol 2 het 268 lopies aangeteken terwyl Standerton slegs 66 lopies kon aanteken.
Dodds van Zyl van Sasol 2 het vyf paaltjies geneem en Boshoff vier.
Sasol 1 het ook op Sondag, 2 Februarie hul staal gewys en hul wedstryd teen Ermelo in die premiersliga beklink.
Sasol 1 het 169 lopies aangeteken en Ermelo het 137 lopies aangeteken.
George Louw van Sasol 1 het vyf paaltjies geneem.
Sasol 1 bly dus eerste op die ranglys, met vyf punte voor Piet Retief.
Sasol 2 het opgeskuif na die derde plek op die ranglys.
Sasol speel eerskomende naweek teen Ermelo op Ermelo en teen Piet Retief op Dumbe.




