Local sportSport

Bootvaart op see laat Billy se hart vinniger klop

Sportman benodig borge om verder deel te neem

SECUNDA – Billy Bezuidenhout se droom is om voltyds op die water te wees met sy rubberboot en om aan wedvaarte deel te neem.

Hy het egter borge nodig om dié droom te verwesenlik en werk sedert hy gematrikuleer het saam met sy pa, mnr. Kobus Bezuidenhout, in die gesin se onderneming op Evander wat industriële toerusting verskaf.

Bezuidenhout neem dus deeltyds en soveel as wat hy kan, aan wedvaarte deel, maar hy het steeds borge nodig om dié sportsoort deeltyds te beoefen.

Hy het al twee Trans Agulhas-uitdagings wat in die Kaap plaasvind, voltooi en spaar tans om in Maart vanjaar aan die wêreldkampioenskap deel te neem.

Billy Bezuidenhout en Cristiano Sequeura in aksie op die see in hul rubberboot.

Hulle het in 2016/2017 deelgeneem en 16de geëindig terwyl hulle voor dié uitdaging net aan twee wedvaarte op die see deelgeneem en in die 2017/2018 wedvaart het hulle sewende geëindig.

“Ons doen met elke wedvaart beter.”

Die gogga het Bezuidenhout gebyt toe hy nog klein was.

“My pa was altyd betrokke by dié sportsoort as organiseerder en hy het destyds vir my ‘n veselglasbootjie gekoop waarmee ek begin het.”

Bezuidenhout se pa was ook een van die lede wat destyds die rubberbootklub in die omgewing gestig het.

Dié klub het intussen doodgeloop omdat daar te min lede was, maar Bezuidenhout gaan ry op die Rietspruitdam naby Kriel so gereeld as wat hy kan.

“Maar om op die see te jaag, is baie anders as op ‘n dam. Om deur of bo-oor daardie golwe te gaan, dit is net ‘n gevoel wat ‘n mens nie vir iemand kan beskryf nie. Vir my is dit die beste gevoel op aarde.”

Billy Bezuidenhout en Cristiano Sequeura in aksie op die see in hul rubberboot.

In die rubberbote sit die bestuurder agter en die navigator voor op die punt.

Die navigator is baie kere in die lug as die boot se neus oor die golwe gaan en dit is hoekom Bezuidenhout dit verkies om die bestuurder te wees.

“Ek het hoogtevrees, so ek kan nie voor sit nie,” het hy gesê.

Bezuidenhout en Sequeura kon nie aan die 2018/2019-resies van die Trans Agulhas-uitdaging deelneem nie omdat hulle ‘n tekort aan borge gehad het.

“Ons wil net op die water wees, ons wil net ry.” In sy vrye tyd kuier Bezuidenhout graag saam met vriende en famile en het gesê hy sal enige tyd braai, selfs as dit reën.

Billy Bezuidenhout en Cristiano Sequeura in aksie op die see in hul rubberboot.
Billy Bezuidenhout en Cristiano Sequeura in aksie op die see in hul rubberboot.
Billy Bezuidenhout en Cristiano Sequeura in aksie op die see in hul rubberboot.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button