Covid-19: Atlete oefen tuis tydens inperkingstyd
Atlete gee wenke oor hoe ’n mens steeds kan oefen
SECUNDA – Hoewel Suid-Afrika tans deur ‘n inperkingstyd van 35 dae gaan, keer dit nie atlete van Secunda Marathonklub om te oefen en fiks te bly nie.
Wilna Jordaan het gesê sy hardloop om haar huis. Die verste wat sy al om haar huis gehardloop het gedurende die inperkingstyd, is 4km.
“Ons kan nie oefen soos altyd nie, maar ons probeer om aan die gang te bly,” het Jordaan gesê.
Nog ‘n atleet van Secunda Marathonklub, Meintjie Jansen, het gesê sy oefen steeds vyf tot ses dae weekliks.
Op dag een doen sy versterkingsoefeninge, op dag twee oefen sy op ‘n stilstaande oefenfiets en op dag drie tot vyf hardloop sy sowat vyf tot 10km in haar erf.
Daleen Venter en haar man, Hennie Venter, het voordat die grendelstaat begin het, reeds vir die Comrades Marathon geoefen.
“Ons moes ons oefenroetine aanpas hoewel ons nog nie seker is of vanjaar se Comrades nog gaan plaasvind nie,” het Venter gesê.
Dié egpaar oefen daagliks en doen kragoefeninge sowel as binnenshuise fietsry en hardloop in hulle erf.

“Dit is 60 treë om om ons huis te hardloop so ons moet dus 30 keer om die huis hardloop om 1km af te lê.
“Ons het nie ‘n gymnasium tuis nie, net ‘n bal, weerstandsrekke en ‘n apparaat waarmee ons armoefeninge kan doen.”
Die egpaar het voordat die inperkingstyd begin het, ‘n oefenfiets wat binnenshuis werk en waarop hulle ook nou gereeld oefen, by ‘n vriend geleen.
‘n Gemiddelde oefensessie vir dié egpaar duur sowat 90 minute.
“Ons fokus ook op goeie voeding en eetgewoontes om seker te maak ons behou ‘n gesonde gewig gedurende dié tyd.
“Ons maaltye bestaan uit vars vrugte, graan- en peulgewasse en groente.”
Venter glo dit is moontlik om tydens die inperking steeds ‘n gesonde en aktiewe leefstyl te handhaaf.
JP Henin, nog ‘n lid van Secunda Marathonklub, laat nie toe dat die inperkingstyd hom onderkry of hom keer om te oefen nie.
“Die inperkingstyd het my sielkundig baie hard geslaan en dit was vir my baie onverwags.
“Ek is ‘n baie aktiewe persoon en sukkel om stil te sit, so om deur die inperkingstyd te kom, probeer ek om by my gewone oefenroetine te bly, behalwe natuurlik vir die feit dat ek nou net in my erf kan oefen.”

Henin doen daagliks uurlange krag-oefensessies waar hy sy eie liggaamsgewig gebruik.
Hy wissel oefeninge vir sy arms en bors af met oefeninge vir ander dele van sy liggaam.
Hy hardloop elke tweede middag in sy erf en moet meer as ‘n honderd keer om sy huis hardloop om 10 tot 15km af te lê.
“Ek noem dit Hamster-rondes vir ooglopende redes.”
Elke tweede dag, as hy nie om die huis hardloop nie, hardloop hy sowat 8km op ‘n binnenshuise hardloopband (treadmill).
Die dae tussen-in, oefen hy op ‘n toestel vir 45 minute teen ‘n lae tempo.
Vir Henin kan die oefensessies soms lank raak en hy luister na musiek of potgooi (pod cast) oor sy gunsteling-onderwerpe, hengel en sport, om hom te help om deur dié oefensessies te kom.
Lees ook: Covid-19: Oefen steeds gholf tydens inperking









