Local sportSport

Annerie van der Merwe verklap nie te veel geheime van hengel nie

Met haar man WK as skipper kon hulle slaag daarin om in 2005 by Grootdraaidam die eerste binnelandse kompetisie te wen en toe het die gogga behoorlik begin byt, wat te sê nog van die visse?

Annerie van der Merwe wat van kindsbeen touwys langs die viswater gemaak is, het die hoogste sport in hengel bereik met 2014 se Protea-kleure op haar kerfstok.

Sy het ‘n oorsese reis vir ‘n EFSA-kampioenskap na Weymouth, Engeland vanaf 15 tot 19 September meegemaak om die groen baadjie aan te trek.

Alles het begin vir dié werknemer van Ritchie op Standerton by Kosibaai, waar die gesin kampeer het.

Ligte Gerei Boothengel in Mpumalanga was die aangewese keuse in 2003 wat die geleentheid vir die Van der Merwes gebied het om as gesin saam ‘n sport te beoefen.

“Hengel is ontspannend en ‘n kans om gehalte-tyd saam met jou gesin en vriende te hê,” was een van haar opmerkings.

Met haar man WK as skipper kon hulle slaag daarin om in 2005 by Grootdraaidam die eerste binnelandse kompetisie te wen en toe het die gogga behoorlik begin byt, wat te sê nog van die visse?

‘n Kompetisie op nasionale vlak het in 2008 gevolg.

Haar ondervinding op sowel binnelandse damme as die seewater kan aanskou word in haar huis met die talle trofees en medaljes wat ingepalm is.

Wat is die geheim?

Annerie van der Merwe van Standerton hengel nie meer aktief nie, maar is bereid om die jonger geslag touwys te maak.

“‘n Hengelaar moet leer om geduldig te wees,” het Annerie gesê.

Baie duidelik is daar ‘n kuns aan om dié sport te beoefen, om nie eens te praat van die talle tegnieke wat bemeester moet word nie.

Die toegelate 4kg IGFA-lyn wat gebruik word om die vis uit te haal, speel ‘n rol waaarmee versigtig te werk gegaan moet word om die vangs te ‘skep’.

Annerie het dit as ‘speel’ met die vis verwoord.

‘n Hoogtepunt was ‘n ondervinding op 9 April 2014 op Mosselbaai toe hulle boot ‘Fish Eagle’ met spanmaat, Tokkie Brits, die grootste ‘Diamond Rye’ van 81,2kg gevang het.

Dié rekord is in die Suid-Afrikaanse annale aangeteken.

Ook hengel die Van der Merwes steeds by ligas, maar mededinging by ‘n kampioenskap is op die lange baan geskuif omdat dit te veel tyd in beslag neem, asook geldintensief geword het.

“Ons is bereid om te enige tyd die jonger geslag by te staan,” het sy ook gesê.

Die verskil tussen tussen hengel en visvang lê vir haar in eersgenoemde se mededingende aard en laasgenoemde waar iemand wil wegkom van alles af.

“Jy besluit self waar jy tuishoort.”

Annerie het ook die natuurbelewenisse hoog aangeskryf waar ‘n hengelaar by ‘n deurnagkompetisie wakkerword met die geroep van ‘n baber, of om ‘n groot withaai te sien wat jou vis wil gryp.

“Natuurlik help net een doepa teen die koue en reën.

“Warm koffie of ‘n vis wat byt.”

Hegte vriendskapsbande is ook oor die jare gesmee tussen die stroppe bedel en geheime deel deur. Sy het die Opperwese se hand in haar en WK se ondervindinge raakgesien en eer en dank aan Hom gebring.

“Hengel leer jou om die natuur te respekteer,” het sy mee afgesluit.

Annerie van der Merwe spog met ’n baber van 18,4kg by die Vaaldam tydens ’n ligakompetisie. (Foto verskaf)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button