Amy-Lee van Wyk van Kalies presteer in karate
Die gesin se besoeke aan Durban is vir daardie grotes naamlik die Kanazawa Cup en die Development Challenge, maar die Sun City-ondervinding beklee ’n spesiale plek.
Amy-Lee van Wyk het haar karateprestasie sekuur afgetel, 40 medaljes en 17 trofees, met laasgenoemde wat pryk in die sitkamer as bewys van die tweede bruin gordel wat sy verower het.
Dié sertifikate, in plastiek omhul, is presies in ‘n lêer saamgebind.
“Ek is dolgelukkig en opgewonde as ek ‘n medalje kry,’ het Amy-Lee gesê.
Mededinging het plaasgevind by kompetisies van Karate Suid-Afrika Mpumalanga asook ‘South African Federation of Shotokan Karate’ se wedywering.
Amy-Lee het knap vertaal wat ‘karate’ beteken naamlik ‘leë hand’ en geklee in haar ‘gi’, wat kraakgeluide met die opstaan en beweeg gemaak het, is die verskil tussen ‘kumite’ en ‘kata¹ se ‘gi’ verduidelik.
By eersgenoemde is die karateka gereed om te baklei, terwyl laaasgenoemde ‘n kombinasie van verskillende bewegings insluit.
Dié 12-jarige leerder van Laerskool Kalie de Haas woon getrou haar uurlange sessies, twee maal ‘n week, by ‘Three Swords Dojo’ by.
Soos enige sport is inskrywingsfooie by kompetisies en vervoeronkoste betrokke en ‘n karateka moet gepantser wees met handskoene, ‘n gesigmasker, beskerming vir die mond, voete en bors om sy of haar vaardighede op die proef te stel.
Amy-Lee is die oudste kind van Pieter en Patty van Wyk en hul laatlam, Shawn het ses jaar later sy opwagting gemaak.

“Sy het vir die pastoor gesê sy soek na ‘n boetie of sussie vir Kersfees,” het ma Patty die geheim verklap.
Die gesin se besoeke aan Durban is vir daardie grotes naamlik die Kanazawa Cup en die Development Challenge, maar die Sun City-ondervinding beklee ‘n spesiale plek.
Daardie Saterdagaand in 2016 was ouma Sushara nog by hulle en sy is die daaropvolgende Woensdag oorlede.
Amy-Lee neem die strekoefeninge by opwarming ter harte.
“Die kans bestaan dat jy by sommige bewegings kan val,” het sy bygevoeg.
“Ons is geleer dat as jy val, staan jy weer op.”
Haar belangstelling in karate spruit daaruit om haar ‘man’ te kan staan as daar boeliery is.
Kalies se gr. 6-leerder se toekomsplanne is gerig op die veld van marinebiologie en met haar bruin gordel, wat vanjaar in ontvangs geneem is, is dit heel moontlik.




