Local sportSport

Werner Mouton dra gemaklik die kapteinsbaadjie vir dorpskrieket

Hoewel hy op skool as buitesenter en heelagter in rugbywedstryde uitgedraf het, het krieket die oorhand gekry.

Die veelsydige kaptein van Standerton Krieketklub, Werner Mouton, is heel gemaklik met sowel die bal as kolf en het sy eerste klubwedstryd reeds in gr. 11 gespeel.

“Doerietyd het ek die ouens se toksakke gedra, nou dra die ‘youngsters’ myne,” aldus die pa van Wandré (5) en Marlé (2).

Hy het aan Hoërskool Standerton in die 0/14A- en 0/15A-spanne meegeding en gou reeds sy plek volgestaan in die skool se eerstespan.

Die mantel van kapteinskap het ook vroeg reeds om sy skouers gehang toe hy in gr. 10 kaptein van die 0/16A’s was en die verantwoordelikhede, wat daarmee saamhang, het hy soos volg verwoord:

“Jy is aanspreeklik teenoor jouself en die res van die span, tog is dit lekker.”

Hoewel hy op skool as buitesenter en heelagter in rugbywedstryde uitgedraf het, het krieket die oorhand gekry.

“Ek het meer van krieket as rugby gehou,” het hy gesê.

Na skool het die technikon op Standerton met ‘n N4 se rekenaarpraktyk en wiskunde gewag, en deesdae is hy ‘n volwaardige makelaar op die dorp.

Werner en Melzane is in 2011 getroud en albei werk by Nel, Prenzler en Van der Merwe Makelaars.

Deesdae wentel sy fiksheidsroetine om die kinders.

“Ek het voorheen vroegoggend en laatmiddag gaan draf, nou hou my kinders my jonk en gesond,” het hy tong-in-die-kies gesê.

Wat Protea-spelers betref, is die grote in Suid-Afrikaanse krieket, Hansie Cronjé, allerweë sy gunsteling.

Sy raad aan opkomende spelers of jongetjies wat wonder of hulle krieket sal kan speel, is saamgevat in die eenvoudige woorde, ‘ball sense’, waarna vaardighede vanself sal kom.

Werner is verlede jaar as die spelers se Speler van die Jaar aangewys.

“Om jou talent te gebruik, is die lekkerste van krieket,” het hy mee afgesluit.

“Ek speel my hele lewe al krieket en sal aanhou so lank ek kan.”

Werner Mouton op die gholfbaan waar sy ‘ball sense’ hom goed te pas kom. (Foto verskaf)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button