Elbie Human hou die ballerinas op hul tone
Elbie en haar eggenoot Koos de Waal woon sedert 2001 op Vrede, hoewel dié oud-leerder van Hoërskool Standerton op die dorp grootgeword het.
Elbie Human van Vrede se balletloopbaan het reeds op driejarige ouderdom begin en teen 1976 het sy begin klasgee op Standerton, Vrede, Amersfoort en Volksrust.
Later het Perdekop en Frankfort gevolg en haar balletskool onderrig nou ballerinas op Standerton, Vrede en Frankfort.
“Letterlik duisende ballerinas is deur my hande en sommiges gee vandag self klas,” het Elbie gesê.
Haar dansers neem gereeld aan kunswedstryde deel, maar die grootste uitdaging bly gewis die eksamens en medaljedanse wat ballerinas se danskwalifikasies bepaal.
Elbie en haar eggenoot Koos de Waal woon sedert 2001 op Vrede, hoewel dié oud-leerder van Hoërskool Standerton op die dorp grootgeword het.
Haar bekendstelling as kleuter aan ballet was by Bart Saayman wat ‘n Cecchetti-afrigter was.
Dié balletmetode word wyd gedefinieer as ‘n styl van klassieke ballet en balletopleidingsmetode wat vernoem is na die Italiaanse balletmeester, Enrico Cecchetti, wat tussen 1850 to 1928 geleef het. Volgens die metode, word gepoog om noodsaaklike vaardighede in dansers te ontwikkel, sowel as sterkte en veerkragtigheid.
Haar onderrig het daarna voortgegaan by Paddy Chambers en later ook by Olive Styger, wat ‘n lid van die ‘South African Dance Teachers Association'(SADTA) was.
Laasgenoemde organisasie is by die ‘World Dance Council’ geaffilieer.
“Ballet is ongelooflik vir die liggaam en die gees en nie net ‘n gerondspringery nie,” het Elbie dit verwoord.
“Jy leer veerkragtigheid, uithouvermoë, passie, spanwerk en sensitiwiteit.”
Elbie het ook gesê dit is ideaal vir persoonlikheidsontwikkeling omdat selfdissipline en sosiale distansiëring geleer word want elkeen weet waar sy of hy moet staan.
‘n Hoogtepunt was ongetwyfeld haar aanstelling as eksaminator by SADTA en later by die ‘Dance Academy of South Africa’ (DASA).
Sy het ook skouers geskuur met Suid-Afrika se Roelien Strauss wat die Mej. Wêreld-kroon gedra het.
Op persoonlike vlak het gesondheidsprobleme hul tol geëis en sy moes ‘n knievervangingsoperasie ondergaan.
‘n Embolisme in haar longe is gediagnoseer en sy glo sy het deur die Here se groot genade ‘n tweede kans gekry.
“Waar kry ‘n mens ‘n bloedklont?
“In die hospitaal se apteek, minder as 50 meter van die ongevalle, met ‘n afgetrede paramedikus wat reg agter jou man staan.
“Ek was klinies dood, maar hulle kon my terugbring.”
‘n Laagtepunt in haar lewe was die tragiek rondom ‘n danser wat op pad na haar klas ontvoer en later vermoor is.
Elbie het die meeste balletproduksies al gesien en die laaste een in ‘n skouburg was die Russiese produksie van ‘Swan Lake’.
Margot Fonteyn en Rudolf Nureyev natuurlik, beklee daardie spesiale plekkies.
Werksbevrediging spruit daaruit om met elke danser te werk, te sien hoe hulle vorder en hulle karakter ontwikkel.
“Die moeilikste vir ‘n danser is seker om nie beserings te kry nie,” het sy mee afgesluit.
“Jy is gedurig besig om jou self te druk.”




