Local sportSport

Besters van Standerton maak korte mette van skietuitdagings

“Selfdissipline, ’n geordende lewe en ’n natuurlike aanvoeling is van hulp,” het Stoffel aangedui.

Die Bester-gesin van Standerton is almal nou betrokke by die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se aktiwiteite en die jong seuns, Carel en Leo het al hul slag gewys.

Pa Stoffel en Carel, ‘n gr. 8-leerder by Ligbron Akademie vir Tegnologie op Ermelo, kon tydens ‘n onderhoud bietjie oor die aanloop tot Edelvalk-tak se kompetisies verklap.

“Carel was vier-jaar-oud toe hy gesê het dat hy ook wil skiet,” het Stoffel gesê.

Die eerste bok is op vyf-en-‘n-half-jaar geskiet.

Geen sport ‘gebeur’ maar net nie en die oningewyde moet weet dat sekere kenmerke vereis word om jou ‘n bobaasskut te maak.

Stoffel en Elri Bester is albei nou betrokke by die skietgemeenskap. (Foto verskaf)

“Selfdissipline, ‘n geordende lewe en ‘n natuurlike aanvoeling is van hulp,” het Stoffel aangedui.

Carel het grootgeword met wapenhantering en die vrees van sommige kinders het, volgens sy pa, nie by hom posgevat nie.

Respek vir ‘n vuurwapen is egter ononderhandelbaar.

Pa en seun het reeds in 2015 saam na skietdae begin gaan.

Carel het in 2017 aan die juniors se nasionale kompetisie op Welkom deelgeneem en ‘n goue sertifikaat ingepalm, die daaropvolgende jaar is ‘n silwer toekenning behaal.

Die Besters onthou dit goed want dit was die eerste jaar wat Leo saamgegaan het.

Die koerant het ‘n voëltjie hoor fluit dat Leo by ‘n onlangse kompetisie hom goed van sy taak gekwyt het en dat sy spannetjie by die ghongskietdae se naam niks anders as ‘Goed, beter, Bester’ is nie.

Carel Bester by die bok wat hy platgetrek het. (Foto verskaf)

Terwyl Carel nog nie 18 jaar is nie, slyp die ervare manne en vroue van Edelvalk nog hul vaardighede in hulle afdelings.

Dié tak skryf gewoonlik twee spanne in vir nasionale kompetisies.

“Dit is haalbaar om met die regte toewyding die A- of B-span te haal,” was Stoffel se mening. Volgens hom is die sukses van die tak grootliks te wyte aan die samehorigheid onder die skietgemeenskap.

Edelvalk poog ook om meer juniors te laat deelneem en junioropleidingkursusse maak hulle touwys oor die vele fasette van skiet en fynere detail, soos byvoorbeeld spoorsny, word nie agterweë gelaat nie.

Hulle jongste skuts is tussen vyf en ses jaar en daar is geen ouderdomsbeperking nie as ‘n mens Dave Marais se prestasies in ag neem nie.

“Jy kan van kindsbeen af tot 80 jaar mededingend skiet.”

Maak geen fout nie, ma Elri is volgens haar eggenoot, ook nie onhandig nie.

Stoffel het dit deels daaraan toegeskryf dat sy op ‘n plaas grootgeword het en dié sportdissipline natuurlik kon bemeester.

Elri werk in die week by Vaalrivierskool op die dorp, Leo is ingeskryf by Standerton Akademie, Carel is ‘n koshuisbrak by Ligbron, wat Stoffel laat om maar self die droë hout bymekaar te kry vir die braaivleisvuur in die aand en bykosse aanmekaar te slaan.

Moet nie enigsins probeer om die Besters op naweke se Saterdae in die hande te kry nie, want hulle ruim tyd in vir hul gunstelingsport.

Pa en seun werskaf op die plaas. (Foto verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button