Wian Labuschagne van Vrede palm die Archie-beker in
Wian speel gholf sedert hy vyf jaar oud is, is lid van Vrede Hoërskool se gholfligaspan sedert 12-jarige ouderdom en het verlede jaar in ligawedstryde van Vrede Gholfklub se seniorspan begin meeding.
Die 16-jarige Wian Labuschagne, gholfspeler van Vrede, het op 8 Augustus die Archie-beker verower.
Die Archie-beker se kampioenskap vind jaarliks op Vrede plaas en die wedywering dateer terug na 1928.
Volgens sy ouers, het Wian die 18 putjies voltooi met ‘n gross van 74, wat hom op ‘n netto van 66 te staan gebring het, twee houe beter as sy naaste teenstander.
“Daar is in die geskiedenis van die Archie-beker slegs ‘n handjievol juniorlede wat dié prestasie behaal het,” het sy ouers gesê.

Wian speel gholf sedert hy vyf jaar oud is, is lid van Vrede Hoërskool se gholfligaspan sedert 12-jarige ouderdom en het verlede jaar in ligawedstryde van Vrede Gholfklub se seniorspan begin meeding.
Dié jongman spog tans met ‘n 7-voorgee.
Vrede Hoërskool het hom ook die afgelope drie jaar as Gholfspeler van die Jaar aangewys en tydens die klub se juniorkampioenskap in Junie, het hy met die louere weggestap.
Wian speel twee keer per week gholf, ontvang afrigting by mnr. Allen Versveld van Gauteng en het nog geen provinsiale kompetisie bygewoon nie.
Walker Park Gholfklub op Evander is sy gunstelingbaan en sy rolmodel is Rory McIlroy van Noord-Ierland.




