Oom Dave Mararis bring jare se ondervinding na die Edelvalk-tak
Die polisie het sy pa se gewere met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog gekonfiskeer, met die uitsondering van die .22, die windbuks en die .32 pistool.
Oom Dave Marais wat op byna 86-jarige ouderdom nog skiet, het al gewis naam onder die gesoute skuts gemaak.
Hy is ‘n lid van die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) en die studeerkamer op die plaas op Vrede getuig van sy sonderlinge prestasies.
Dié plaasseun van De Aar in die Noord-Kaap se pa het hom aan skiet blootgestel.
“Jy’t skaars begin loop, dan leer jou pa jou om met die windbuks te skiet,” aldus oom Dave.
Die polisie het sy pa se gewere met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog gekonfiskeer, met die uitsondering van die .22, die windbuks en die .32 pistool.
Oom Dave het ook sy vrou, tannie Annatjie na hul troue touwys in dié sport gemaak.
“Sy skiet my met die pistool uit,” het hy droogweg opgemerk.
Ook ander voornemende skuts is gementor in hoe jy skiet, korrel, aanlê en die terugskop
Hy het in 1978 vir die Griekwaland-Wesspan gekwalifiseer tydens ‘n nasionale Bisley-kompetisie en tot in 1982 vir dié span meegeding.

“By die Bisley daag meer as 300 deelnemers op en ‘n mens ontmoet mense wat jy nooit gedink het jy sou sien nie,” het hy gesê.
Oom Dave was op die stigtingsvergadering van die Kosmos-tak van die SAJWV, nou bekend as die Edelvalk-tak.
Benewens intertakspankompetisies in 2007 en 2008 is sertifikate aan hom in die tabelle handwapen, rooibok, springbok, bouwildebees en rooijakkals uitgreik vir verdienstelike prestasies.
Hy is ‘n jagter in die ware sin van die woord.
‘n Groep vriende se jaarlikse uitnodiging in die winter om blesbokke te gaan skiet, word met graagte aanvaar, om nie te praat van die twee besoeke aan Amerika nie.
“Die eerste keer het ek ‘n Amerikaanse wildevark geskiet en die tweede keer ‘n jong swartbeer,” het oom Dave vertel.
Die beerepisode was tydens die Marais se besoek in September 2015 aan Aurora, Maine waar sy seun, Chris ‘n swartbeerjagekspedisie vir sy pa gereël het.
Die bere is in die digte bome gelok met dromme wat kos ingehad het en oom Dave het van die Maandag tot die Vrydag op die beer gewag.
“Hierdie hele week loop op niks uit nie,” het hy by homself gedink.
Vrydagmiddag 6.15nm gebeur dit toe.
Die Amerikaner het self die beer afgeslag, die binnegoed uitgehaal en die vleis in klein stukkies gesny, wat oom Dave aan die wonder gesit het.
“Hoekom sny jy die vleis so?”
“Ek gee dit vir die minderbevoorregtes,” was die antwoord.
Die beervel is gebrei en pryk nou op die bed in die slaapkamer op Vrede.
Die Dave Marais-uitdaagbeker het ook tot stand gekom waar elke skut se gemiddelde tellings oor die jaar ‘n voorgee bepaal het.
Dié voorgeeskietkompetisie dateer uit sy kommandodae in die Herbert-distrik op Douglas.
Hy het van meeste van sy gewere ontslae geraak met die uitsondering van ‘n Winchester 270 en ‘n rewolwer.
Dié jintelman uit die skutgeledere het afgesluit met die volgende stukkie wysheid aan voornemende skuts:
“Jy moet die lus hê om te wil skiet.”




