Jan Degenaar palm provinsiale sporttoekenning in
Hy is nou ’n sensei, senior instrukteur van ‘Shotokan Karate International South Africa’, president van Mpumalanga se Karatevereniging en les bes aan die woel by die plaaslike klub, Three Swords Dojo.
Jan Degenaar, karatefoendi van Standerton, is vir die tweede agtereenvolgende jaar as Mpumalanga se Sportman van die Jaar aangewys.
Dié toekenning is vanjaar in Roodepoort aan hom toegeken en ook regstreeks op televisie uitgesaai.
Jan het verlede jaar Protea-kleure verwerf en spog met die vierde dan, ‘n swart gordel.
Broer Gerhard het hom in 1972 aan dié sport bekendgestel en hoewel hy vir 18 jaar beoefening gestaak het, is hy nou ‘n sensei, senior instrukteur van ‘Shotokan Karate International South Africa’, president van Mpumalanga se Karatevereniging en les bes aan die woel by die plaaslike klub, Three Swords Dojo.
Die toekenning as kampioen in die meestersafdeling vir die tweede agtereenvolgende jaar by Karate SA kan ook nie agterweë gelaat word nie.
Om te vorder tot by ‘n swart gordel, neem jare want ‘n karateka wag na die eerste swart gordel ‘n jaar, na die tweede gordel twee jaar en die tyd stap aan na gelang van die numeriese volgorde.
Hy beoog om in April volgende jaar mee te ding vir sy vyfde swart gordel.
Melony, sy vrou, is aan Jan se sy.
“Sy ry saam en laat haar nie by die huis los nie,” het Jan gesê.

Op haar beurt, spog Melony met ‘n bruin gordel en sy was vir die tweede agtereenopvolgende jaar ‘n finalis in die afdeling van Sportadministrateur van die Jaar na haar vaardighede as sekretaresse raakgesien is.
Die Degenaars het na oorleg, ‘n afdeling by die karatevereniging vir mense met gestremdhede geskep.
Jan het tuis ‘n 60 vierkante meter spasie met tatami, oftewel karatematte, omskep om sy studente te onderrig.
Hy het onomwonde verklaar wat dié sport van jou vereis.
“Die grootste fout wat jy kan maak, is om te dink jy weet alles.”
Tegniek, tegniek en nogmaals tegniek.
“Karate leer ‘n mens selfdissipline en respek vir jouself,” het hy gesê.
“Jy moet vasbyt en nie skaam wees nie.”
Om te gradueer na die volgende gordel, neem maklik vier ure onder die wakende oog van beoordelaars wat instruksies gee en maak geen fout nie. Japanese terme moet geken word.
“Jy is óp, poegaai na die tyd.”
Die talle bekers en medaljes by die huis getuig van Jan se deursettingsvermoë en sy swanesang lê moontlik voor.
“Ek weet nie of ek meer mededingend gaan deelneem na die ‘Open and Elite Championship’ op 23 Desember nie,” het hy bygevoeg.
Jan is egter nie verlore vir die karatekas nie en sal steeds die katas en kumites kan demonstreer.
“Ek geniet dit baie,” het hy mee afgesluit.




