Local sportSport

Salomé Visser van Standerton het haar oog op Hoëveld-kleure in rolbal

Salomé het aan die besigheidsliga begin deelneem, André de Bruto het haar ook verder touwys gemaak en in 2019 het sy by die klub aangesluit.

Skaars twee jaar nadat sy vir die eerste keer ‘n hout laat rol het, het Salomé Visser met die louere weggestap as Standerton Rolbalklub se vroue-enkelspelkampioen.

Met die 1 181g per bal, het sy sekuur gemeet en gekorrel en stof in haar teenstanders se oë geskop.

Salomé het aan die besigheidsliga begin deelneem, André de Bruto het haar ook verder touwys gemaak en in 2019 het sy by die klub aangesluit.

“Ek het eintlik maar ‘tips’ by almal gevang,” aldus Salomé.

Soos enige sportsoort, is daar die spreektaal.

Van ‘vat gras tot by die bal’ (wydte), tot ‘trek tot by die bal’ of ‘gaan lê by die bal’ en ‘praat met die houte’.

Dié sportvrou het by Hoërskool Standerton in die eerste netbalspan die doele gegooi en vir vyf jaar in die interhoërspan aan gewigstoot deelgeneem.

Volgens haar, gaan gewigstoot oor spoed en krag en sy moes die aanpassing van gewigstoot na rolbal maak.

“n Swaarder bal maak makliker pad vir homself,” het Salomé gesê.

Salomé Visser is die administratiewe klerk by ’n versekeringsmakelaar en ook sekretaresse van die Hoëveld-sone se komitee, sowel as tesourier van die plaaslike klub.

Sy het twee aspekte van die spel uitgesonder wat aangeleer moet word, een op persoonlike vlak en een op fisieke vlak.

“‘n Mens moet leer om geduldig te wees en as jy meeding, moet konstante gewig op die bal gehou word wanneer jy rol.”

Bewapen met sonblok vir die gesig, ore, nek en arms vir rolbaldae, is die administratiewe klerk by ‘n versekeringsmakelaar ook sekretaresse van die Hoëveld-sone se komitee, en tesourier van die plaaslike klub.

Haar man Desmond, het net voor haar die mansenkelspeltitel opgeraap.

“Dit is spesiaal dat Desmond en ek in dieselfde jaar presteer.”

Salomé oefen Dinsdagaande, hoewel sy vas oortuig is dat die geheim in oefening lê.

“As jy jou spel wil verbeter, moet jy elke dag oefen.”

Rolbal het haar na meeste van die naburige dorpe al geneem soos Vrede, Heidelberg, Groblersdal, eMalahleni (Witbank), Ermelo en Secunda.

‘n Hoogtepunt in haar rolballoopbaan was vanjaar se trofee.

“Ek wil nou eers wedywer om Hoëveld-kleure te kry,” het sy mee afgesluit.

“As die Here my spaar, wil ek daarna Mpumalanga-kleure kry.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button