Local sportSport

Secunda-veearts kan sy bergfiets trap

Louis verruil draf vir fietsry

SECUNDA – Plaaslike veearts en bekende inwonder, Louis Bosch (62), sal in Desember aan sy 11de Sani2C-bergfietswedren deelneem.

Dié wedren is vanjaar geskuif vanaf Mei na Desember.

Die wedren bestaan uit 265km wat oor vier dae strek en dit vind jaarliks in KwaZulu-Natal plaas.

Bosch praktiseer al vir die afgelope 34 jaar by die Secunda Dierehospitaal en is nog nie afgetree nie.

Hy beskou dit as ‘n wonderlike voorreg om te kan bergfietsry en het gesê dis te danke aan sy Verlosser, Jesus Christus.

Hy het in sy vroeërjare al drie keer die Comrades Marathon voltooi, maar spits hom deesdae eerder op fietsry toe.

Hy het in 2008 aan sy eerste Sani2C-wedren deelgeneem en met sy terugkoms op Secunda, was hy bykans in ‘n depressie om terug te keer na die gewone lewe omdat dié bergfietswedren vir hom so lekker en spesiaal was.

“Nou verwerk ek dit darem beter om terug te keer na my normale lewe ná die wedren,” het Bosch gesê.

Hy is in November 2013 met blaaskanker gediagnoseer en het dus in 2014 nie aan die Sani2C-wedren deelgeneem nie. Hy was egter in 2015 weer gesond en op sy bergfiets en het die wedren dié keer saam met sy skoonseun, Theo van Deventer, aangedurf. Die vorige jare het Bosch dit saam met wyle Andries Meyer, wat ‘n ingenieur by Sasol was, aangedurf, maar hy is in 2013 na ‘n buikoperasie dood.

Bosch se volgende drie Sani2C-wedrenne het hy saam met Carl Toua, ‘n plaaslike apteker, gery, maar hy het intussen na die Kaap verhuis. Bosch het een Sani2C-wedren saam met sy skoonseun gedoen voordat hy ook Kaap toe verhuis het en een vandat hy weer terug is op Secunda. Hy het dus nie in 2016 aan dié wedren deelgeneem nie, maar in 2017 was hy weer op sy fiets en gereed om die bergpasse aan te durf.

Dié keer was sy spanmaat Hannes du Plessis van Secunda en in 2018 was sy spanmaat Grant Adkins, ‘n vriend van Trichardt. Sy skoonseun het hom vanjaar vir sy 10de Sani2C-wedren vergesel.

Bosch het verlede jaar die ‘Black Mamba’- status bereik omdat dit sy 10de wedren was.

Hy het gesê ‘n mens moet goed voorbereid wees en genoeg ure op die saal deurgebring het voordat jy die Sani2C aandurf.

Die moelikste deel van die Sani2C vir hom is op dag twee waar fietsryers die Umkomaasvallei moet uitklim.

“Dit is baie taai,” het Bosch gesê.

Sy hoogtepunt van die wedren is op dag drie as hulle uiteindelik die see kan sien wanneer hulle op Scottburgh aankom.

Bosch het in 2001 sy eerste bergfiets gekry nadat dr. Hein Gildenhuys wat destyds ‘n dokter op Secunda was, hom oortuig het om fietsry as ‘n sport te begin beoefen.

Sy eerste wedren was die Rhodes-wedren in die Oos-Kaap en dit het oor sowat 80km gestrek. Bosch het al aan baie fietswedrenne, wat die Baberton Sabie Classics, die Henertsburg, die Crater Cruize op Parys, die Induna op Hazyview, die Kersiefees-wedren op Ficksburg en die Forest to Falls op Graskop insluit, deelgeneem. Hy oefen drie keer ‘n week en ry op Dinsdae en Donderdae 40km en op Saterdae ‘n langer afstand van sowat 80km.

Hy volg nie ‘n spesiale dieët nie, maar probeer om nie onnodige gewig op te tel nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button