Desmond Visser van Standerton deeglik bewus daarvan dat dit oefening verg om bo uit te kom
Desmond het in 2018 by die Standerton Rolbalklub aangesluit en tydens die algemene jaarvergadering daardie jaar, is hy tot president verkies.
Desmond Visser, Standerton se manskampioen in rolbal, draai nie doekies om oor wat dit verg om ‘n trofee huis toe te neem nie.
“Oefening, soos in enige ander sport, maak die verskil,” het Desmond gesê.
“Ek probeer om elke dag op die baan te wees en vir sowat twee tot drie ure te oefen.”
As groot toernooie op pad is, skakel hy na ‘n hoër rat oor.
“Ek oefen dan ses uit die sewe dae.
“As jy nie oefen nie, gaan jy nie die vrugte pluk nie.”
Desmond het in 2018 by die Standerton Rolbalklub aangesluit en tydens die algemene jaarvergadering daardie jaar, is hy tot president verkies.
In die afdeling ‘best achiever’, het hy met die louere weggestap.
Die volgende jaar is hy as klubkampioen gekroon en daar was geen keer aan hom nie.
Tydens die kampioenskap vanjaar op 7 November, is dié prestasie herhaal.
Sy vrou Salomé, het in die vroue-afdeling meegeding en sy kon nes manlief, ook die trofee as vrouekampioen verower.
“Dit was ‘n wonderlike gevoel,” aldus Desmond.
André de Bruto het hulle aanvanklik tydens die besigheidsliga aan die sport bekendgestel en ‘n ander mentor is Lanie Nel van Secunda, die Hoëveldkampioen, wat hom baie wenke gegee het.
Desmond het afgesluit deur te sê dat hy rolbal speel om die sport te geniet, hoewel hy hard daaraan werk om verder te vorder.



