Ermelo se Ilze Roux pak die bul by die horings
Dié gevaarlike sport het dadelik haar nuuskierigheid geprikkel en sy het geweet dat dit iets is wat sy wou aandurf.
Me. Ilze Roux (19) van Ermelo het geen banghaar op haar lyf nie, dié dat sy op die rug van ’n gewaagde bul kan spring en dit boonop kan geniet.
Sy is in 2019 uitgenooi om ’n rodeo in Machadodorp by te woon en dis ook hier waar sy kennis met die wêreld van “bullriding” gemaak het.
Dié gevaarlike sport het dadelik haar nuuskierigheid geprikkel en sy het geweet dat dit iets is wat sy wou aandurf.
Slegs 165cm lank met ’n skamele gewig van 47kg, besluit me. Roux in 2020 om vir die eerste keer op die rug van ’n bul genaamd, M&M te spring tydens die Ermelo Skou.
“Ek moet bieg die eerste keer was dit vreesaanjaend en my hele lyf het gebewe, maar terselfde tyd was ek in ekstase om die bul te ry.”
Toe die hekke oopgaan het dié astrante bul met haar begin bokspring en binne etlike sekondes haar deur die lug geslinger, vanwaar sy tot groot bekommernis van die skare, roerloos op die grond opgeëindig het.
Boonop besluit die besete bees om op haar arm ook te trap.
Sy het eers nadat iemand haar oor haar arm uitgevra het, besef wat gebeur het en het gelukkig nie enige ernstige beserings opgedoen nie.
Me. Roux het vertel dat die bul wat vir haar nog die wildste was en die meeste met haar gebokspring het, Frontliner was.
“Ek het gesukkel om bo te bly, maar sal hom graag eendag weer wil ry en probeer om die volle agt sekondes uit te hou.”
Ruiters poog tydens die rodeo-gebeurtenis om vir agt sekondes bo op die bul te bly, terwyl hy wild met hul bokspring.
Haar beste tyd nog op ’n bul was ses sekondes.
Me. Roux wie ’n liefde vir diere het, het ook by die Genesis K9-groep honde-opleiding gedoen, en op 9 April haar kursus voltooi.
Lees meer hiervan in die volgende Hoëvelder.



