Secunda se Yolande leef haar liefde vir perde uit
Haar storie met perde het begin toe haar seun, Estian Smit (21), op laerskool perdrylesse begin het om met aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit te help.
SECUNDA – Me.Yolandé Smit (51) het eers in haar veertigerjare begin perdry en sedert dié gogga haar gebyt het, kan sy nie genoeg van perde kry nie.
Sy het in Desember 2015 die Peraldi Ruiterssentrum buite Secunda oorgeneem en is nou voltyds by dié sentrum betrokke.
Haar en haar man, mnr. Dirk Smit, se storie met perde het begin toe haar seun, Estian Smit (21), op laerskool perdrylesse begin het om met aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit te help.
Hy neem sedert hy 12 jaar oud is op nasionale vlak deel aan ‘Western Mounted Games’,’n ruitersport wat behels dat perderuiters op hul perde verskeie take in ‘n arena uitvoer.
Me. Smit het op Vanderbijlpark en Secunda skoolgegaan en aan Hoërskool Secunda gematrikuleer voordat sy ‘n diploma in uitvoerende sekretariële werk by die Technikon in die Vaaldriehoek verwerf het.
Sy het eers by Sasol as sekretaresse begin werk en later haar BA-graad in Industriële Sielkunde behaal en in die menslike hulpbronne-afdeling by Sasol as konsultant begin werk.
Ná 25 jaar diens by Sasol het sy besluit sy wil eerder ‘n tuisteskepper wees en was vir ‘n jaar by die huis voordat sy Peraldi Ruiterssentrum oorgekoop het.
Napoleon was Estian se eerste perd en twee ‘Appaloosa’-perde, bekend vir die kollerige patroon op hul lywe, het gevolg.
So het Avalanche en Hihoka deel van dié gesin se perde-familie geword.
Me. Smit het op Hihoka gery totdat hy ‘n paar jaar daarna weens chroniese asma van kant gemaak moes word.
Avalanche moes intussen vir operasies aan sy knieë gaan en me. Smit moes hom versorg.
Nog ‘n jaar later, in 2018, is Avalanche gediagnoseer met oogkanker wat suksesvol verwyder kon word.
Me. Smit moes hom weer eens versorg en dié twee het sodoende ‘n baie spesiale band ontwikkel.
“Ek moes hom twee weekliks chemo- en antibiotika inspuit vir twee maande lank totdat die kanker heeltemal weg was.”
Die gesin se perde-familie het daarna net nog groter geword en hulle het nou verskeie perde van hul eie by Peraldi Ruiterssentrum.
Peraldi Ruiterssentrum het sedertdien al verskeie kompetisies van verskillende soorte ruiterssportsoorte aangebied.
“Omdat dit vir ons belangrik is om die liefde vir die sport aan te moedig, word lesse op ‘n voltydse basis aangebied vir kinders en volwassenes van alle ouderdomme,” het me. Smit gesê.
“Ons jongste ruitertjie het begin met perdrylesse toe sy net vier jaar oud was en vandag het sy haar eie perd en neem ook deel aan verskeie dissiplines van dié sport.
“Dit is vir my ongelooflik lekker om te sien hoe die kinders groei en hoe hulle die perdry geniet.”
Peraldi Ruiterssentrum is onlangs as ‘n multi-dissipline ryklub geregistreer om die uiteenlopende belangstellings van die ruiters te akkommodeer.
Me. Smit en haar span is opgewonde oor dié nuwe wending wat haar sentrum neem.
“As ek terugkyk oor die bykans ses jaar wat ons Peraldi het, is ek trots om te sien hoe dit gegroei en uitgebrei het.
“Sonder my man, Dirk, Estian, ons toegewyde en lojale werkers en perde-eienaars sou ons nooit gewees het waar ons vandag is nie.
“Ons is nederig en baie dankbaar.”



