Drian Podges van Standerton skiet ’n barshou by Presdientskietdag
Dit was twee dogters Chané en Mia Geldenhuys se eerste Presidentskiet, wat dopgehou is deur Christo en Xander Bailey, sowel as Helen Ellis.
Presidentskietdag op die Evert Genis-skietbaan en die senuwees het aanvanklik geknaag.
Die dag het behoort aan Drian Podges, wat 700,16 punte en Xander Bailey, wat vir die juniors 660,12 punte aangeteken het.
Helen Ellis is as die beste vroueskut aangewys.
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se kwalifiserende proewe vir die nasionale kompetisie later vanjaar het op Saterdag 24 April plaasgevind.
Edelvalk-tak het meegeding en die top 100 skuts staan dan ‘n kans om ‘n Groen Baadjie uiteindelik te verwerf.
Met ‘n sonnetjie wat flouerig geskyn het, wolke wat spierwit in die blou lug beweeg het en ‘n windjie wat merkbaar was, het JC Schoeman vir die 29 skuts kortliks die nuwe werkswyse, soos bepaal deur die SAJWV, aangekondig.
Die eerste aflos se inskiet kon aaneenlopend van 100m, 200m en 300m geskied.
Die vlaggies aan weerskante het later beduidend begin wapper wat skuts duidelik in aanmerking moes neem.
Baanoffisiere Wynand Ferreira en Elri Bester was op hulle pos om die veiligheid te verseker en die skietdag kon in alle erns begin.
Daar word 120 sekondes toegelaat om tussen die tabelle te beweeg, wat op dié dag die springbok- en wildebeesteiken was.
Ferreira se horlosie het noukeurig die tyd vir gedissiplineerde skuts aangewys.
Nadat die fluitjie geblaas is, is die skote afgevuur wat gevolg is deur instruksies oor beveiliging van die gewere en die grendels wat oopgehou moes word.
Wind en son beïnvloed natuurlik die trajek van die patroon en die loop moet ook kans kry om af te koel.
Skuts lê merendeels bewegingloos met net ‘n paar voete wat soms beweeg.
Dit was twee dogters Chané en Mia Geldenhuys se eerste Presidentskiet, wat dopgehou is deur Christo en Xander Bailey, sowel as Helen Ellis.
Met die snapskote op die blouwildebeesteiken is die geweer op 45° gehou en binne vyf sekondes is een skoot afgevuur.
Dit is drie maal herhaal.
‘Staak vuur’ en skuts het teruggestap met die swaar toerusting na hul voertuie en dadelik het ‘n ander atmosfeer geheers.
Die uitslae kon nou bereken word.
Voorspellings, kwinkslae en menings is uitgeruil en teen die tyd dat Schoeman die individuele – en spanuitslae aangekondig het, het meeste skuts al iets te ete en te drinke gehad.
Medaljes is oorhandig en die top 20 skuts is aangewys. Vir sommige wag nog ‘n kwalifiseerder en ander het reeds hul plek vir ‘n Groen Baadjie bespreek.



