Local sportSport

Professionele gholfspeler van Secunda speel steeds graag

Paul werk steeds as verkoopsverteenwoordiger op Secunda en omgewing.

SECUNDA – Paul van Biljon (72), professionele gholfspeler, het toe hy 13 jaar oud was begin gholf speel.

Kinders van jonger as 13 was destyds glo nie op die gholfbaan toegelaat nie.

Sy pa was die baanopsigter by die gholfklub in Randburg waar Van Biljon grootgeword het, en hoewel sy pa nooit self gholf gespeel het nie, het Van Biljon se pad met Retief Waltman, ‘n goeie gholfspeler, s’n gekruis en hy het hom geleer gholf speel.

Van Biljon se ouer broer, Gert van Biljon (77), is ook ‘n beroepsgholfspeler.

Paul Van Biljon woon al die afgelope 40 jaar op Secunda waar hy as verkoopsverteenwoordiger werk.

In sy skooldae het hy verskeie medaljes vir gholf ingepalm en ook trofeë as sporterkenning ontvang.

Toe hy op die kruin van sy gholfloopbaan was, was sy voorgee 0 en hy is, toe hy 16 jaar oud was, as lid van die eerste Suid-Afrikaanse junior interprovinsiale gholfspan gekies.

Hy was deel van die heel eerste gholfspan wat vir Suid-Transvaal gholf gespeel het en hy het altesaam aan 24 toernooie vir dié span deelgeneem.

Hy was vir jare ook die kaptein van die Oos-Transvaalse span totdat hy in 1999 sy laaste toernooi vir dié span gespeel het.

Nadat hy sy matriekjaar voltooi het, het hy vir die bekende Suid-Afrikaanse sakeman, Louis Luyt, begin werk.

Van Biljon is vandag spyt dat hy destyds sy studies vir ‘n graad wat hy na ure gedoen het in boekhouding, laat vaar het omdat dit met sy gholf ingemeng het.

Hy het in 1977 Johannesburg vir Ermelo verruil waar hy vir Joy Manufacturing begin werk het.

Hy het later na Secunda verhuis en baie onder die myne gewerk en is tot takbestuurder en later tot streekbestuurder bevorder.

Van Biljon doen steeds werk in die myntoerustingbedryf op ‘n vryskutbasis.

Hy het hoë hoogtes in sy loopbaan as professionele gholfspeler bereik en in 1999 het hy sy senior beroepspelerkaart in Turkye gekry en 29ste uit 500 gholfspelers geëindig.

Sy gholfloopbaan het hom na baie lande in Europa geneem waar hy aan toernooie deelgeneem het.

Hy het in 2000 in Spanje deelgeneem om sy beroepskaart te verbeter en het toe vyfde uit 500 spelers geëindig.

Van Biljon het later ook ‘n volle toegangskaart om aan enige gholftoernooi deel te neem, gekry.

Hy het verskeie toernooie in Suid-Afrika gewen en hy is steeds deel van die Sonskyn Senior Gholftoer.

Hy is sedert 1999 deel van Graceland Hotel, Casino en Buitelugklub se gholfklub.

“Ek het bereik en gedoen wat ek wou op die gholfbaan,” het Van Biljon oor sy gholfloopbaan gesê.

Dié oupa van vier kleinkinders speel deesdae net so twee of drie keer ‘n week gholf.

Daar is deesdae nie so baie toernooie vir senior gholfspelers in Suid-Afrika nie, maar as Van Biljon die kans kry, neem hy steeds aan toernooie en kompetisies deel.

Hy was vir 10 jaar op die Suid-Afrikaanse Senior Professionele Gholfersunie se komitee en het gesê hy sal nog gholf speel vir solank as wat hy kan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button