Local sportSport

Sasol Digi Mag Rugbyklub se eerstes klop Witbank in ’n ligawedstryd op Secunda

Steyn van der Heever is as die Voorspeler van die Wedstryd aangewys en Jannie van der Merwe as die Agterspeler van die Wedstryd.

SECUNDA – Sasol Digi Mag Rugbyklub se eerstespan het Saterdag, 28 Mei, die Witbank-span met 27-12 in ‘n tuis-wedstryd op Secunda geklop.

Hoewel Witbank se spelers ‘n kragvertoning gelewer het met harde plettervatte waar Sasol Digi Mag se linkervleuel, Fanafuthi Motloung, selfs op ‘n kol deur die lug getrek het, moes hulle hard werk om hul doellyn te verdedig.

Die grootste deel van die wedstryd het in Witbank se half- en kwartgebied afgespeel.

Met die afskop om 3.30nm het albei spanne mekaar eers goed opgesom.

Die tuisspan wat fouteer het, was gelukkig toe Witbank se skrumskakel, Pieter Clarence, nie met ‘n strafdoel binne die eerste minute van die wedstryd geslaag het nie.

Sasol Digi Mag se oopkant-flank, Steyn van den Heever, het deur die wedstryd sy kanse goed benut wanneer die bal sy kant toe gekom het.

Hy was die span se eerste puntemaker toe hy verby die Witbankers genael en ‘n drie in die hoekie gedruk het.

Die vervyfskop was nie suksesvol nie.

Skaars twee minute later het kookwater Van den Heever weer draaie om die Witbankers geloop en nog ‘n drie gedruk, maar hierdie keer was die punte nie toegestaan nie.

Die skeidsregter het beslis dat die bal laat val was.

Met 10 minute oor in die eerste helfte van die wedstryd, het Sasol Digi Mag se skrumskakel, Dalton Smit, die bal uit ‘n skrum in Witbank se kwartgebied opgeraap en ‘n drie gaan druk.

In die verdoellingspoging het bal teen die pale vasgeslaan en geen punte ingewin nie.

Die telling het toe op 10-0 vir Sasol Digi Mag gestaan.

Die besoekers het die druk begin voel en het angstig gelyk om punte op die telbord te kry.

Deur stuk-stuk veld te wen het hulle later die tuisspan benoud gehad met hul verteenwoordigheid in Sasol Digi Mag se kwartgebied.

Nog ‘n skoppie het die Witbankers ‘n kans vir ‘n lynstaan naby Sasol Digi Mag se doellyn gegee.

Hul losskakel, Christo Nelson, het die bal ontvang en ‘n drie skuins van die pale gaan druk.

Witbank se skopvoet het nie drie verdoel nie. Die rustydtelling was 10-5.

Sasol Digi Mag se Marinus van Merwe het die eerste drie vir die tweede helfte gedruk, maar kon dit nie verdoel nie want die bal het weer die pale getref.

Die telling was 15-5 in Sasol Digi Mag se guns.

Die besoekers het met nuwe gees aangeval en dit was nie lank nie, toe woel hulle in Sasol se kwartgebied met ‘n skrum, systappies en toe ‘n lynstaan.

Dit was net ‘n kwessie van tyd totdat hul loskopstut, Waldo Nelson, ‘n drie gaan druk het.

Clarence het hierdie drie verdoel en die telbord na 15-12 opgestoot.

Dit was toe asof Sasol Digi Mag se span hul ritme gevind het.

Met die son in hul oë en ‘n wind wat teen hulle waai, het Sasol Digi Mag nog twee doele ingewerk.

Anwar Fillis, buitesenter, het ‘n drie onder die pale gedruk wat deur Steven Jacobs, regtervleuel, verdoel is.

Heelagter Jannie van der Merwe het met ‘n kraglopie deur die Witbankers se verdediging gebreek en ‘n drie naby aan die hoekie gedruk.

Jacobs se skoppoging was nie geslaagd. Die telbord het op 27-12 tot stilstand gekom.

Van den Heever is as die Voorspeler van die Wedstryd aangewys en Jannie van der Merwe as die Agterspeler van die Wedstryd.

Sasol se tweede- en derdespanne het egter die knie vir Witbank moes buig.

Hoewel hierdie kragmeting as hul tweede wedstryd in die Mpumalanga Premiersliga tel, was dit eintlik Sasol Digi Mag se eerste amptelike kontak-wedstryd omdat Newcastle verlede naweek nie hul wedstryd kon nakom nie.

Dalton Smit, skrumskale vir Sasol Digi Mag, vlieg oor die doellyn om ’n drie te druk.

 

KYK:Meer fotos te sien in Fotogalery 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button