‘Malboer’ van Secunda eet graag wildsvleis
Smit jag twee keer jaarliks om sy vrieskas vol te hou.
SECUNDA – Smit ‘Malboer’ Steyn het nie verniet sy bynaam gekry nie.
As hy in die gevegsring baklei, durf hy groot name aan en het al verskeie kere as die wenner weggestap.
Sy volgende geveg in Augustus sal ook sy eerste geveg as professionele vegter in gemengde gevegskuns wees.
Hy het die gevegsnaam ‘Malboer’ gekry omdat hy so lief is vir boer en die buitelewe.
Steyn was vir drie maande buite aksie weens ‘n besering, maar hy oefen reeds weer vier keer weekliks.
Hy het jare terug by Graceland se gevegskunsklub geoefen en toe vir ‘n lang ruk opgehou voor hy in 2018 weer begin oefen en fiks word het.
Hy het toe by The Dominator’s Den van Cedric ‘The Dominator’ Doyle, self ook ‘n aktiewe gevegskunstenaar, aangesluit en help Doyle tans om die kinders in dié sport af te rig.
Steyn geniet dit om te jag en het onlangs begin om eerder met ‘n pyl en boog as met ‘n vuurwapen te jag.
Hy het op ‘n plaas buite Kinross grootgeword en was nog altyd lief daarvoor om te jag. Hy verkies wildsvleis bo ander vleissoorte.
Hy eet al die afgelope vyf jaar hoofsaaklik wildsvleis.
Wildsvleis het minder vet aan en Steyn volg ‘n spesiale eetplan voor elke gemengde gevegskunskompetisie.
Gesondheidsfanatici skakel hom gereeld om wildsvleis te bestel.
Steyn het na skool vir agt jaar as passer by Sasol gewerk, maar hy het later bedank en by ander ondernemings binne Sasol as sweisinspekteur gaan werk.
Hy het vroeërjare wild gekoop en met wild geteel en ‘n stuk grond gehuur.
Jagters het hom gereeld gehelp om van die wild uit te skiet en volgens Steyn was dit vir hulle goedkoper en nader as om op ander plekke te gaan jag.
Hy het later nie meer wild gehad of die grond gehuur nie, maar hy het besef daar is ‘n behoefte vir wildsvleis in die omgewing nadat jagters hom gereeld geskakel het om te hoor of hy wildsvleis beskikbaar het.
Dit Wildspot het sodoende ontstaan en Steyn verskaf nou weekliks wildsvleis aan belangstellendes.
Hy jag twee keer ‘n om sy eie vrieskas vol te hou.
“Ek geniet dit om ‘n wildspotjie te maak op ‘n Sondag,” het Steyn gesê.
As hy en sy vrou, me. Monique Steyn, en hul twee kinders, soms lus is vir iets anders as wildsvleis, stop hulle sommer by die plaaslike winkels.
In sy vrye tyd vang hy graag vis saam met sy gesin en me. Steyn gaan selfs saam as hy en sy seuntjie Willem (9) jag of gevegskuns beoefen, maar sy het gesê sy is net daar om hulle te ondersteun.
Sy dogtertjie Lizelle (6) beoefen ook gemengde gevegskuns.



