Local sportSport

Secunda se Betsie Bornman ontluik as Mpumalanga se enkelspel-rolbalkampioen

Sy het twee voltalle in die wedstryd gespeel – iets wat uiters skaars op daardie vlak van rolbal gebeur.

SECUNDA – Ure-lange oefeningsessies elke week het vrugte vir Betsie Bornman afgewerp.

Sy is onlangs as Mpumalanga se rolbalkampioen in die vroue-enkelspel gekroon.

Bornman (59) het in die eindstryd teen Miranda Paiva, ‘n provinsiale speler, te staan gekom en haar met 21-9 geklop.

Sy het boonop twee voltalle in die wedstryd behaal – iets wat uiters skaars op daardie vlak van rolbal gebeur.

Dit was die einste Paiva wat vir Bornman met haar eerste Mpumalanga-kampioenskap drie jaar gelede ore aangesit het.

Bornman het toe onder die 16 bestes geëindig. Die jaar daarna was sy onder die top agt spelers in the kampioenskap.

“Dit was voorheen vir my intimiderend om teen ‘n provinsiale speler te speel. Dit het vanjaar uiteindelik verander.

“‘n Med- speler, Lanie Nel, het my bly aanmoedig dat ek verby die titels moet kyk en net moet koelkop bly.”

Bornman was vroeër jare self ‘n provinsiale speler vir Noord-Vrystaat.

Dié polisie burgerlike wat by die speurtak op Trichardt werk, het ook ‘n rolbal skeidsregterskwalifikasie agter haar naam.

Sy was as jong vrou in die Vrystaat aan die sport bekendgestel en het baie aanklank daarby gevind.

Bornman was in die jare 90s lid van die Kroonstadse rolbalklub en het vele toernooie gewen.

“My kinders, Erika en Christo ondersteun my baie in my rolbal.”

Betsie Bornman en haar mentor, Lanie Nel, is vanjaar weer die klubkampioene in die enkelspel by die Sasol Rolbalklub. (Foto: Verskaf)

Haar spoed en moed was gebreek toe sy haar stel rolballe in 2005 verloor het.

“Ek het summier opgehou speel, maar ek het dit baie gemis.

In 2017, het ek na Secunda verhuis en besluit om weer te begin speel,” het sy gesê.

Bornman het die laaste drie klubkampioenskappe gewen en het ook die HoëveldKampioen van kampioene-byeenkoms gewen.

Die top spelers van al die klubs op die Hoëveld trek jaarliks by hierdie kampioenskap saam.

In 2019 het sy die Victrix Ludorum-toekenning van Sasol Rolbal Klub ontvang

Borman is hard aan die oefen vir die meesterskampioenskap waarin spelers landwyd kompeteer. Hulle wag nog om te hoor wanneer en waar dit gaan plaasvind.

Bornman is vol lof vir Nel.

“Lanie se ondersteuning en toewyding beteken vir my oneindig baie. Ek leer baie by hom. Hy is’n uitstekende speler.

“Hy het hom oor my ontferm en het my gehelp om my spel weer van vooraf op te bou.”

Volgens Bornman moet ‘n mens net goeie “ball sense” hê om rolbal te kan speel.

Daarby glo sy ook daaraan om tydens ‘n wedstryd kalm en gefokus te bly.

“Ek konsentreer so hard op die spel dat ek my soms afsny van alles en almal om my.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button