Local sportSport

Standerton se Barend Human is oorgehaal vir aksie

Bosvarkjagter is nou bevoorreg om ’n erfstuk, ’n 3006, van sy oupa Human te kan gebruik.

Barend Human van Standerton se naweke word opsygesit vir bosvarkjag.

Dié oud-leerder van Hoërskool Standerton en sy broer PJ, is al van kindsbeen bekendgestel aan die dissipline wat van ’n jagter vereis word.

“My heel eerste geweer was ’n .22,” het Barend gesê.

Hy is nou bevoorreg om ’n erfstuk, ’n 3006, van sy oupa Human te kan gebruik.

“Dit werk nog baie goed, want baie liefde en aandag word daaraan bestee,” het hy ook gesê.

“Ek maak dit elke Vrydagaand skoon.”

’n Bosvarkjaggroep met nagenoeg 58 lede staan voor die uitdaging om boere by te staan as die bosvarke voor die voet gesaaides beskadig.

Altesaam 25 jaghonde word op ’n plaas gehuisves.

Barend het kortliks verduidelik hoe hulle te werk gaan wanneer op ’n plaas opgedaag word.

“Voordat die honde afgelaai word, moet die omgewing bespied word om tekens van bosvarke in die gras te gewaar.”

Volgens hom, het die bosvarke ’n plaag geword en ystervarke is nie naastenby in dieselfde liga nie.

Hulle teel regdeur die jaar aan en maak broeineste in die gras.

Barend, hoewel redelik klein, jag nou al ’n goeie vyf jaar en sorg dat hy met oefening fiks en vinnig bly.

Die varkkarkas word aan jaggroepe en slaghuise verkoop.

Veiligheid van jagters by togte word vooropgestel en reëls en regulasies is in plek, veral as ’n nuweling aansluit.

Die jagters hou rekord van die grootte van die bosvarke wat platgetrek is.

Barend se pa Piet, het een getref waarvan die tande 7 en ’n 3/4 ” uitgesteek het, wat onder die top 5 in die Suid-Afrikaanse annale geëindig het.

’n Naweek word tradisioneel met ’n braai afgesluit en sappige vark-op-die-spit is al by meer as een geleentheid beproef.

Barend het ruiterlik erken dat hy elke oomblik van die jag geniet.

“Dit is die aksie, atmosfeer en adrenalien,” het hy mee afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button