Local sportSportStreeknuus

Sussies palm 120 rosette in

Tans berei die twee voor vir die Gautengse Kampioenskap waar hulle meeding om vir die Gautengspan te kwalifiseer.

Zanica Grobler (12), ‘n leerder aan Laerskool Witpoort, het onlangs, te midde van die inperking, saam met haar suster, Tymicka (16), vir die Suid-Afrikaanse nasionale perdepsportbyeenkomste
(Sanesa-skoue) en ook vir die Gauteng Noord-span in al 13 hul klasse gekwalifiseer.

Hoewel dié twee ruiters nog net sowat vyf jaar kompeterend ry, het hulle altesaam al meer as 120 rosette opgeraap.

Op die jong ouderdom van sewe het Zanica haarself in die saal uitgeleef.

“Ons was van kleinsaf mal oor diere en het veral vir perde ’n groot liefde gehad. Ons ma moes baie geld op speelperde en -stalle bestee,” het Zanica laat hoor.

Die twee Grobler-sussies leef vir perdesport.

“Om elke dag jou perd op te saal en ritte saam mekaar aan te pak, is waarna ons die meeste uitsien.”

Zanica het vanjaar ook aan perdespringsport begin deelneem ondanks die uitdagende en onvoorspelbare jaar, ná verlede jaar se Covid-uitbraak.

“Ek geniet dit die meeste om saam met my perd deur die lug te spring.”

Tymicka is weer meer aangetrokke tot items wat meer onverfynd is soos Working Hunter, Stadium Eventing en Cross Country-spring.

“Ek hou van hoe rowwer, hoe beter,” het Tymicka bygevoeg.

Die twee uiteenlopende ruiters is ook bevoorreg om die trotste eienaars van hul eie vier perde te wees wat by hul huis gestal word.  Zanica ry op Sensation wat ’n saalperd is. Tymicka se nuutste perd is Schwaike Warmblood Litana.

Hulle kyk albei ook baie op na hul afrigter, Christine Grubb van CG Equestrian.

Tans berei die twee voor vir die Gautengse Kampioenskap waar hulle meeding om vir die Gautengspan te kwalifiseer. Daarna beoog die susters om in Oktober aan die Nasionale Kampioenskap deel te neem.

Tymicka se groot droom is om tot op Olimpiese vlak te ry en te kan kwalifiseer, waar Zanica nog net die perdry geniet.

“Ons band het aansienlik versterk deur dié gedeelde passie. Ons ry elke week saam perd en ons skoue is ook altyd op dieselfde naweek.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button