Smit ‘Malboer’ Steyn wen eerste geveg as professionele vegter
Vegter glo sport en die Here het sy lewe verander.
Smit ‘Malboer’ Steyn het op Saterdag, 14 Augustus, sy eerste gemengde gevegskunsgeveg (MMA) as professionele gevegskunsvegter gewen by die EFC-kampioenskap in Johannesburg.
Hy het teen British Boloyoang van Durban geveg.
Steyn en sy afrigter, Cedric ‘The Dominator’ Doyle, het goeie beplanning gedoen en dit het gewerk.
“Ons plan was dat ek tydens die eerste ronde van die geveg rustiger gaan veg. Omdat Boloyoang vanaf Durban kom en ’n groot ou is, het ons gedink en gehoop dat hy dan teen die tweede ronde moeg sou wees,” het Steyn vertel.
Hoewel Steyn op ’n stadium in die eerste ronde vir ’n oomblik in die moeilikheid was, het hy deurgedruk en het hul plan gewerk.
Steyn het alles in die tweede ronde uitgehaal terwyl Boloyoang moeg was.
Steyn het met ’n algehele uitklophou (total knock out) gewen.
Hy het sowat vyf jaar gelede besluit om te begin oefen om ’n professionele vegter te word nadat hy Doyle raak geloop het en Doyle hom genooi het om by sy nuwe klub te gaan oefen.
“Ek het op daardie stadium reeds na verskeie van Doyle se EFC-gevegte op televisie gekyk en toe besluit om een keer deur te ry na Carnival City waar hulle veg en vir Doyle te gaan kyk.
“Van die heel eerste keer af wat ek vir Doyle gaan kyk het en die energie in die arena gevoel het, het ek besluit ek wil ook ’n professionele gemengde gevegskunsvegter word en by die EFC-kampioenskap veg.”
Steyn was destyds op ’n slegte plek in sy lewe en dié sport het hom gehelp om ’n beter voorbeeld vir ander te stel en dit het hom dissipline geleer.
“Dit het my ook geleer van hoop en dat ’n mens enige iets kan bereik as jy bereid is om hard daarvoor te werk.”
Steyn help vir Doyle by die Dominators Den-gevegklub as hulp-afrigter en rig die kinders af.
“Ek voel ek moet die disspline en rigting wat dié sport my geleer het weer terugploeg in die jeug en ek doen dit om terug te gee vir alles wat die Here vir my gedoen het,” het Steyn gesê.
Die noue band wat hy en die ander vegters van Dominators Den het, is vir hom baie kosbaar en belangrik en hy het hulle as ’n familie beskryf.
Hy het sy vrou en kinders bedank en gesê hulle het hom nog altyd ondersteun en gehelp om suksesvol te wees.
Hy het ook sy borge, Muscle Mecca Secunda en Spirit of Limpopo Distillery, vir hul ondersteuning bedank, asook vir Doyle, sy vriende en sy oefenmaats wat saam met hom bloed gesweet het.
Die lesse wat hy die afgelope vyf jaar geleer het terwyl hy geoefen het om ’n professionele gemengde gevegskunsatleet te word, is dat ’n mens tot baie meer in staat is as wat jy dink, ’n mens kan nie alles alleen regkry nie, ’n mens se ego is jou grootste vyand, wees ’n goeie mens wat ander respekteer en nie ander onderskat nie en om op die Here te vertrou.
“Dit is vir my ’n eer om by die EFC-kampioenskap te veg en alle eer aan die Here wat my lewe verander het,” het Steyn afgesluit.







