Karetekas presteer uitmuntend by nasionale kampioenskap
Na afloop van die oefenkamp, is Reghard in die Protea-span opgeneem wat Suid-Afrika by die ‘Africa South’ (Region 5, Zone 6) internasionale kampioenskap, asook by die UFAK kampioenskap in Egipte gaan verteenwoordig.
Die Suid-Afrikaanse Alle Style Ope- en Elite Karatekampioenskap het vanaf Vrydag 27 tot Sondag 29 Augustus in Durban plaasgevind.
Karateka wat vanaf die sesde tot 10de plek op die Karate Suid-Afrika se ranglys is, kon aan die ope-kampioenskap deelneem, terwyl die nommer een tot vyf gekeurde deelnemers aan die eksklusiewe Elite-kampioenskap kon deelneem.
Jannie Degenaar, Reney Raven en Reghardt Burger van die Skisa Three Swords Dojo op Standerton het gekwalifiseer om aan die Elite-kampioenskap deel te neem.
Reney het ’n goue medalje verower, terwyl Jannie en Reghardt elk ’n silwer medalje in hul onderskeie afdelings ingepalm het.

’n Oefenkamp vir die nasionale span is op Sondag, 29 Augustus aangebied waar verskeie nasionale afrigters die Suid-Afrikaanse span onder valkoë laat oefen het.
Na afloop van dié oefenkamp, is Reghard in die Protea-span opgeneem wat Suid-Afrika by die ‘Africa South’ (Region 5, Zone 6) internasionale kampioenskap, asook by die UFAK-kampioenskap in Egipte gaan verteenwoordig.
Jannie en Reney is ook voorlopig in die Protea-span opgeneem, maar sal amptelik kwalifiseer sodra Sascoc goedkeuring verleen het om hul afdelings in te sluit.
Hulle sal Suid-Afrika dan by die ‘Africa South’-kampioenskap verteenwoordig.
Mpumalanga Karate het 21 deelnemers na hierdie twee kampioenskappe gestuur.

Provinsiale Karate President, Jannie Degenaar, is trots dat die provinsie 13 medaljes kon terugbring.
Voorts is hy verheug dat Mpumalanga altesaam ses karateka opgelewer het wat in die 2021 Protea-span opgeneem is.
Inligting: Saamgestel en verskaf deur Jannie Degenaar.



