Local sportSportStreeknuus

Rayton se rodeo-legende tree af maar maak plek vir kleinboet

“Ken jou sit as jy wil bo bly.”

Suid-Afrikaanse rodeo-legende, Willie Liebenberg (30), het ná 14 jaar in die ring en ná vier SA Kampioentitels afgetree omdat hy ernstige harsingskudding opgedoen het.

Sy laaste rit was op 1 Januarie waar ’n bul van Krokodilspruit genaamd Pieta hom tydens sy rit met die kop gestamp het.

“Dié rit is die eerste een wat ek kan sê het my verander.

“Elke bulrit kan jou lewe verander omdat dié sport so gevaarlik is en enige iets kan gebeur.

“Ek het al baie seer rodeo gekry, maar dié keer het ek besef ek my deel gedoen het.”

Hoewel Liebenberg al aan sowat 90 kompetisies oor Suid-Afrika heen deelgeneem het, het hy een onvervulde droom gehad.

Sy grootste begeerte was om eendag vir Jacobus te ry en met hom te wen.

Dié bul se naam is egter herdoop na Willem, want hy is nou na Liebenberg vernoem.

As 16-jarige wat weens sy vriend se waaghalsige versoek op ’n bul beland het,sou mnr. Liebenberg nooit kon dink dat hy van daardie oomblik af ’n liefde daarvoor sou ontdek nie.

Nou droom hy om rodeo groot te maak in Suid-Afrika en maak hy seker sy jonger broer volg in sy voetspore.

Morné Liebenberg (19) palm gereeld die eerste plekke in en dit vloei deur sy bloed.

“Dit is ’n besonderse gevoel. Ek is trots en werk hard daarvoor. Onlangs het ek drie eerste plekke verower in die kategorie vir die beste bulryer van die dag.”

Morné Liebenberg en sy broer Willie Liebenberg. (Foto: Verskaf)

Morné se grootste inspirasie is sy broer wat val en weer opstaan.

“Ek kyk baie op na Willie. Hy is nie net my broer en mentor nie, maar is ook my beste vriend.”

As jong ruiter leef Morné volgens die lewensmotto dat mens alles moet vat soos dit kom en die beste daarvan maak.

Die liefde vir rodeo het op ’n jong ouderdom by hom vlamgevat.

“Op die ouderdom van sewe het ek skape gery by rodeos en toe ek ouer word, het ek kalfies gery. Nou pak ek die bul by die horings en ry die groot bulle.”

Hy wil nou se broer se naamgenoot, Willem die bul, aanpak.

Hoewel hy nog net nasionaal kon kompeteer, beoog Morné ook om eendag in Amerika en Kanada te gaan deelneem sou die geleentheid oor sy pad kom.

Die rekords wat hy wil verbeter, is om soveel moontlik die agt sekondes agter sy naam te kry.

Om vir kompetisies voor te berei, is meer ’n proses wat binne in hom plaasvind.

“Ons bid voor die rodeo. Mens bly kalm, maar wanneer jy op die bul se rug gaan sit voor die hek oopmaak, dan weet jy dit is nou tyd om jou alles te gee.

“Die adrenalien wat deur my liggaam gaan, is iets wat ek nie kan beskryf nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button