Twee fietsryklubs op Secunda bied nag-fietsrit aan
Gemeenskap kan ook uitreik na Davieshof en geld of nie-bederfbare kos skenk.
Fietsryers het op Dinsdagaand, 22 Februarie, teruggegee aan die gemeenskap deur geld en nie-bederfbare kos vir Davieshof in te samel.
Sasol Fietsryklub en MegChem Fietsryklub het hande geneem en ’n nag-fietsrit gereël.
Altesaam 74 fietsryers het vanaf Perfektum se kantore weggespring en ’n sirkelroete deur die groenstroke en op die pad verby die asgate gery.
Die langer roete staan as die ‘Lawa’-sirkelroete bekend.
Die roete deur die groenstroke is sowat 10km en die langer roete is sowat 40km.
Fietsryers het op Saterdag, 26 Februarie weer die lang pad aangedurf en dié keer vanaf die N17 Vulstasie na Val en terug gery.
Hulle het weer nie-bederfbare kos en geld vir Davieshof ingesamel.
Hester Spengler, organiseerder van die fietsritte, het gesê die gemeenskap kan ook betrokke raak en die bejaardes by Davieshof ondersteun.
Dié twee fietsryklubs het aan die einde van verlede jaar weer begin om fietsritte en nag-fietsritte te reël.
Enige iemand kan aan dié fietsritte deelneem en die klubs beplan die volgende nag-fietsrit vir Maart.






