Balle is aan die rol by Bronkies se rolbalklub
Vroue-liga sorg vir groot pret.
Die vyfde ronde van die Bronkhorstspruit Rolbalklub se vroueliga het op Saterdag, 12 Maart plaasgevind.
Daar is al te saam 11 rondes wat gespeel gaan word waarvan Bronkhorstspruit op die oomblik die voortou neem.
Die wenners van die vyfde ronde is Bronkhorstspruit, met Wingate Parkin die tweede plek.
Harlequins lê derde op die telbord met Pretoria Buiteklub in die vierde plek.
Wonderboom se vroue staan stewig vas in hulle vyfde plek en R&M Bowls Club behaal ’n sesde plek.
Bronkhorstspruit se vroue het hulle gaste bederf met koffie en beskuit en later met vetkoek met maalvleis na die spel.
“Bronkhorstspruit Rolbalklub het baie komplimente ontvang vir die hoë standaard van ons perke en ook vir die dag se aktiwiteite.
“Ons is baie trots op ons vroue en het ook nog nuwelinge wat klop aan die deur om in die ligaspan te speel.
“Hierdie sport word hoog geag, veral nou waar ’n skoleliga BGN in Pretoria van stapel gestuur is.
“Ons hoop om ook ons skole daarby te betrek,” het voorsitter, Manie Engelbrecht, laat hoor.










