Bapsfontein se dansende Eva wil Suid-Afrika oorsee verteenwoordig
13-jarige is gekies om Suid-Afrika by die Liverpool Winter Garden in Blackpool in die Verenigde Koningryk tydens die Ope-Ondersteuningskampioenskappe te verteenwoordig.
“Op die dansvloer kan ek net myself wees en my diepste gevoelens deur my dans uitbeeld.”
Dit is die woorde van ’n 13-jarige danser van Bapsfontein, Evagelenah Zoe Karagiannis, beter bekend as Eva.
Eva dans reeds vanaf die ouderdom van sewe.
Eva is ’n graad 8-leerder en maak gebruik van tuisonderrig deur die Teneo Skool.
“Ons het weens persoonlike omstandighede agt jaar gelede op Bapsfontein beland,” het Eva se ma, Melisa Maritz, gesê.
Eva was toe slegs vyf jaar oud.

“Eva het sommer van ’n baie vroeë ouderdom af gewys dat daar ritme en ’n gevoel vir dans in die klein lyfie is.
“Ek het haar toe op sewe-jarige ouderdom by die Dynamic Dance Studio in Benoni ingeskryf,” het Maritz gesê.
Volgens Eva bekwaam sy haarself deur jaarliks haar eksamens te dans, sou sy dus later besluit om dans haar loopbaan te maak, sou sy reeds oor die nodige kwalifikasies beskik.
“Op hierdie stadium is dit ’n passie wat ek voluit leef,” het Eva gesê.
“Ek wil ’n rolmodel wees en ander help om in hulself te glo en te weet dat hulle tot enige iets in staat is.”
Eva het haar pad oopgedans en is uiteindelik gekies om Suid-Afrika by die Liverpool Winter Garden in Blackpool in die Verenigde Koningryk tydens die Ope-Ondersteuningskampioenskappe te verteenwoordig.
Die kompetisie vind vanaf 24 tot 28 Junie plaas.
Eva sal deur haar ma, haar afrigter, Linda Dedekind Lamprecht en Werner Humple vergesel word.
“Ons is ongelooflik trots op Eva en is verseker daarvan dat sy ons land baie trots gaan maak. Ons wens vir haar net die beste toe,” het Dedekind Lamprecht laat hoor.
Ten einde haar droom om Suid-Afrika in Blackpool te verteenwoordig het Eva egter geld nodig.

Die koste beloop sowat R80 000 wat vliegkaartjies, verblyf, etes, kostuums, toegang en so meer insluit.
Daar is reeds individue en maatskappy wat groothartig tot Eva se geldinsamelingsprojekte bygedra het, maar sy het nog heelwat nodig om haar in staat te stel om te kan deelneem.
Die OK in Tierpoort het toestemming gegee dat Eva haar kolwyntjies ddat mag verkoop as deel van haar geldinsameling.
Ook op Saterdag, 5 Maart het Tierpoort vir Eva toegelaat om voertuie te was en boereworsrolle te verkoop.
Loterykaartjies vir Moedersdag is ook op die lys van geldinsamelingsprojekte.
Ook op 5 Maart het ’n sakeman, wie verkies om anoniem te bly, sommer uit die bloute ’n kontantbydrae van R10 000 gemaak.
“Ek het net aan die man gevra of hy ’n worsrolletjie wou koop. Hy het nie eers twee keer gedink nie en het die geld oorbetaal en wou geen erkenning daarvoor hê nie,” het Maritz gesê.
Volgens Maritz, maak sy vir Eva groot met die besef dat niks vanself kom nie en dat jy hard moet werk vir sukses. Vandaar dan ook die geldinsamelingsprojekte waaraan Eva self deelneem.
Die OK Karwas het weer hul toestemming verleen vir ’n karwas- en worsbroodjie-verkopedag. Dit sal op Saterdag, 2 April plaasvind.
Que Sera het ook ingestem dat Eva ’n geldinsamelingsdag op Sondag, 3 April mag hou.

Hiertydens sal Eva ’n klein vertoning lewer en weer loterykaartjies verkoop.
“Ons sal dit opreg waardeer as iemand daar buite bereid is om by te dra om Eva se droom te bewaarheid. Elke bydrae, hoe klein of groot ook al, bring Eva se droom om Suid-Afrika in Blackpool te verteenwoordig, nader.”
Maritz en Eva bedank dan ook elkeen wat sover bygedra het.
“Wanneer ek op die dansvloer is, vloei alle bekommernisse weg en beleef ek geen spanning nie. Ek kan net myself wees en al my gevoelens deur middel van my dans uitbeeld.
“My liggaam en gees raak een met die dans en ek vergeet van die negatiwiteit wat ’n mens soms ervaar,” het die jong danseres gesê.
“My uitsluitlike doel is om my land na die beste van my vermoë te verteenwoordig en trots te maak.”
Vir enige verdere bydraes, kan Maritz by 082 558 0884 gekontak word.



