Local sportSport

Stoeiers van oral na lang droogte weer op die mat by toernooi op Secunda

Deelnemers aan die beginnerstoernooi is stoeiers wat nog nie provinsiale kleure in hul nuwe ouderdoms- en gewigsafdelings behaal het nie.

Stoeiers vanoor Mpumalanga het op Saterdag, 9 April na ‘n lang droogtetyd vir die eerste keer weer aan ‘n stoeitoernooi op Secunda deelgeneem.

Die organiseerders en deelnemers het eers op die nippertjie toestemming gekry dat toeskouers wel toegelaat mag word, dus het net ’n handvol stoeiklubs hul stoeiers gestuur om aan ’n Pumatjie-toernooi deel te neem wat in die oggend gehou is.

Die Mpumalanga beginnerskampioenskap is die middag beslis.

Nietemin was almal duidelik gretig en in goeie luim om weer, na bykans twee jaar aan ’n kompetisie te kan deelneem.

Dit is by die Sasol Ontspanningsklub op Secunda gehou.

Deelnemers aan die beginnerstoernooi is stoeiers wat nog nie provinsiale kleure in hul nuwe ouderdoms- en gewigsafdelings behaal het nie.

Unicor Stoeiklub op Bethal is deur ’n paar stoeiers van Bethal en Standerton verteenwoordig, waaronder ses Pumatjie-stoeiers.

Uitblinkers wat goue medaljes op die beginnerstoernooi vir dié klub verower het, is Jaden Veldhuisen wat in die 0/11-vrystylafdeling deelgeneem het, en Phumlani Maphumulo wat die vrystyl en die Grieks Romeinse afdeling vir stoeiers 0/17 gewen het.

“Dié toernooi was vir ons ’n goeie begin om weer hard te oefen.

“Dit was ’n kans vir ontwikkeling,” het afrigter Theuns Nel gesê.

Amersfoort Stoeiklub is die nuwe kalwer in die stal. Dié klub is verlede jaar deur ’n groep ouers van dié dorp op die been gebring en hierdie toernooi was hul eerste kans om kragte met ander klubs te meet.

Die meerderheid van hul agt stoeiers wat ingeskryf was, het wel plekke op die beginnerstoernooi behaal.

Die goue medalje-wenners is Du Toit Landman (0/16), Willem Landman (0/14), Divan van Zyl (0/9) en Damian Slabbert (0/7).

Wian van Zyl (0/7) en Logan Beukes (0/9) is silwer medalje-wenners.

Duminé Fourie (0/9) het ’n brons medalje ontvang en Ockert van Niekerk (0/4) het ’n vierde plek behaal.

Volgens afrigter Johan Hildebrand oefen die stoeiers op Dinsdag en Donderdag van 15:00 tot 18:00 in die Afgri-saal op Amersfoort.

Belangstellendes kan vir Huldebrand kontak by 076 409 3370.

Sasol Stoeiklub was die gasheer van die toernooi.

Johan van den Berg, klubpresident het gesê die toernooi was suksesvol.

“Die mense was ook baie opgewonde oor die toernooi, want dit is die eerste keer in twee jaar dat toeskouers weer by ’n toernooi in Mpumalanga toegelaat is.”

Hoewel hulle talle Pumatjie-stoeiers op die mat gehad het, het slegs ’n handjievol ouer stoeiers die beginnerstoernooi bygewoon.

Dit is omdat Sasol reeds verskeie Suid-Afrikaanse kampioene in hul stal het wat nie aan die beginnerstoernooi mag deelgeneem het nie.

Sasol Stoeiklub se uitslae is as volg:

1ste plekke:
O/8
Adriaan Odendaal
Jake Voight
O/9
De Wet du Plessis
O/11
Liam Swarts

Tiaan Carelse:
O/15 Grieks Romeins
O/17 Vrystyl
Presidente Jnr Vrystyl
Pres Jnr Grieks Romeins

Nico van den Berg:
Snr vrystyl
Snr Grieks romeins

2de plekke:
O/7
JJ Symington
O/13 vrystyl
Ludwig von Benecke

3de plekke:
Pres Skole
Brussow Francke

Weinand Prinsloo en Tinus Stein, twee van Unicor Stoeiklub op Bethal se Pumatjie-stoeiers maak gereed vir ’n geveg. (Foto: Verskaf)
Dié Middelburg-stoeier laat hom nie sommer deur Phumlani Maphumulo van Unicor onder kry nie.
Wian van Zyl van Amersfoort pas nadat hy ’n val teen ’n stoeier van Middelburg aangeteken het.
Jaden Veldhuisen van Unicor is kop onderstebo op die stoeimat.
Phumlani Maphumulo het sy teenstander van Middelburg in ’n aardige greep.
Liam Swarts van Sasol (in rooi) staan gereed om vir Joe Barnard van Middelburg (in blou) te takel.
Unicor Stoeiklub se Pumatjie-stoeiers is Weinand Prinsloo, Reinhardt Geldenhuys, Juandre Swardt, Tinus Stein, John Williams en Awie de Swardt. (Foto: Verskaf)
Willem Landman (in blou) van Amersfoort takel ’n stoeier van Middelburg.
Jaden Veldhuisen (in blou) van Unicor Stoeiklub oorweeg sy volgende greep. Hy het die geveg gewen.
Damian Slabbert (in blou) van Amersfoort kyk vir sy afrigter vir raad hoe om Brink Blignaut (in rooi) gepen te kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button