Bronkies-fietsryer sien die wêreld op sy saal
“Ek dink nie ek sal ooit ophou fietsry nie. Solank soos wat ek kan sal ek trap. Elke bult het ’n ander kant wat weer af kom”
Bronkhorstspruit se fietsryer, Nico Grobler is in sy element op die saal van sy bergfiets.
Hy is lid van twee klubs in die omgewing, Zamalek MTB en Berg Bulle.
Hy het al oor die land wedrenne voltooi soos die Sani2C, Berg and Bush en die Transbaviaans wat hy twee keer voltooi het.
Grobler is al agt jaar ’n kranige fietsryer.
“Daar is dosyne wedrenne waaraan ek al bevoorreg was om deel te neem. Tyd bepaal gewoonlik hoe ver mens wil ry.
“Elke rit is soos ’n klein vakansie, maar die langer afstande is die lekkerste omdat jy saam met jou vriende strooi praat, lag en natuurlik swaar kry,” het hy laat hoor

Grobler se ouers is ook fietsry-liefhebbers vandat hy kan onthou, maar sy goeie vriend Werner Gouws het hom oortuig om die sportsoort ernstig op te neem.
“Hy het my die meeste geleer van fietsry en seker gemaak ek word uitgedaag.”
Afhangend waarvoor hy voorberei, lê hy weekliks sowat vyf tot 10 ure op die pad af.
“As jy soveel ure aan oefening bestee, behoort jy gereed te wees vir die meeste van die uitdagings,” het hy verduidelik.
Fietsry is nou al vir so lank ’n deel van hulle gesin se lewe en soos enige iets anders in die lewe, werk dit maar so dat hoe meer tyd mens daaraan bestee, hoe beter word mens daarin.
Dus is dit vir hom meer ’n passie wat deel is van sy menswees.
“Ek sal nie myself as ’n atleet beskryf nie, maar eerder as baie entoesiastiese amateur,” het Grobler gesê.
“Daar is verskeie mense na wie ek opkyk in die sport.
“Baie van my vriende trap die rook uit my uit. Daar is ook ’n handvol van my voormalige leerders vir wie ek skool gegee het wat begin fietsry het.
“Dit is beloonend. Ek bewonder hulle. Ek moet spesiaal noem dat oom Moos, my oudste vriend, sekerlik die persoon is wie ek die meeste bewonder op die fiets. “Hy is 74 en trap my lam,” het Grobler vertel.

Deursettingsvermoë is iets wat met tyd vorm neem en waarin mens verbeter soos jou fiksheid verbeter, maar vir Grobler is bergfietswedrenne sy gunsteling-rydverdryf.
“Dit wat jy insit sal jy uitkry. Fietsry leer ’n mens baie lewenslesse. Sommige van hulle is lekkerder as ander,” het Grobler bygevoeg.
Buiten die genot wat fietsry hom bied, neem Grobler se sintuie oor met elke wedren waar hy plekke sien en beleef wat slegs met ’n fiets ervaar kan word.
“My hoogtepunte is aanhoudend en herhaaldelik. Elke wedren het sy eie hoogtepunt het sy of dit is om vriendskappe ryker te word is of om iets anders as allerdaags te beleef,”
Die opkommende wedren waaraan hy graag wil deelneem, is die Joburg2C, ’n nege dag-wedren vanaf Heidelberg tot by Scottburgh.
“Ek wil bitter graag die droom bewaarheid. Dit is sowat 900km ver enbaie moeilik maar bitter mooi,” het hy afgesluit.



