Voornemende boogskutters kan nou inskakel by Secunda se nuutste boogskietklub.
Erika Nel het einde Maart die Secunda Boogskietklub gestig en haar man, Christi Nel, het die opleiding gedoen en leer jong voornemende leerders hoe om met boeë te skiet en ook hoe om veilig te wees op die baan.
Enige iemand is welkom om boogskietklasse by te woon op Vrydae tussen 14:00 en 17:00 by die Hervormde Kerk Secunda-gemeente langs Laerskool Secunda.
Nel bied die AGA-PROGRAM (Africa Genesis Archery) wat voorheen as die NASP (national archery school programme) bekend gestaan het, aan.
Sy leerders is almal skoolkinders.
Erika is die span- en klubbestuurder, terwyl Christi die klasse aanbied.
“My kinders het nie so goed gevaar in sport nie en nie altyd span gekry nie, toe het ons besluit om iets te begin waaraan enige kind kan deelneem en welkom voel,” het Christi gesê.
Daar is reeds 16 kinders in die klasse en hulle begin skiet op ’n afstand van 7m, dan 10m en nog later 15m.
“Wat goed is van ons klasse, is dat ons dit binnenshuis aanbied, so as dit reën of slegte weer is buite, kan ons steeds aangaan met ons klasse,” het Christi gesê.
Al die kinders word in groepe ingedeel en almal gaan aan die kompetisies deel neem.
Hulle beoefen groeperingskiet en Christi maak dit prêt vir die kinders deur hulle na ballonne of ander voorwerpe te laat skiet.
“Ons maak dit interessant vir die kinders en hulle kan ook pryse wen by die oefeninge.”
Vir meer inligting, skakel Erika by 084 250 3042 of Christi by 083 324 6586.




