Sundra se Plaasjapie-stoeiers wys hul staal
Dit was ’n groot oorwining vir die Plaasjapie Stoeiklub toe altesame vier van hul ses inskrywings hul pad na medaljes oopgestoei het.
Die Plaasjapie Stoeiklub het met ses van hul kwalifiserende stoeiers aan die Ekurhuleni Ope-kampioenskap deelgeneem.
Die toernooi het op Saterdag, 23 April in Turffontein plaasgevind.
Dit was ’n groot prestasie vir die Plaasjapies toe vier van hul ses inskrywings hul pad na medaljes oopgestoei het.
Daar het in totaal 340 stoeiers deelgeneem en 28 klubs was verteenwoordig, waarvan sommige van sover as Newcastle, Middelburg, Fochville, Potchefstroom en die Vaaldriehoek na die kampioenskap gereis het.
“Van die sterkste klubs soos Menlopark en Centurion, het ook aan die toernooi deelgeneem,” het Leonica Uys, adjunkvoorsitter en SA-afrigter laat hoor.
MC Uys het in die B/17-kategorie ’n bronsmedalje gewen.
Kylie Bester het ’n silwermedalje vir D0/11 ingepalm terwyl Heiko Gouws ’n silwermedalje in die 0/6-kategorie losgestoei het.
Lihan Gouws het ’n silwermedalje in die 0/8-afdeling ingepalm.
Jacque-André Uys het ’n sesde plek en BG Uys ’n sewende plek behaal.
“Ons is trots op ons Plaasjapie-stoeiers se uitstekende stoei en wens elkeen van hulle baie geluk met hul uitsonderlike prestasies,” het Uys gesê.





