Bronkies se rolbalspelers klop vir Delmas
Balle is aan die rol vir jaarlikse wissel-trofee.
Bronkhorstspruit se rolbalspelers het op Woensdag, 27 April vir die 10de keer teen Delmas meegeding vir die Bronkhorstspruit/Delmas Rolbal-wisseltrofee.
Bronkies het dié kragmeting met 42–6 gewen.
Elke klub het ses spanne gehad wat die baan aan die brand gerol het.
’n Totaal van 36 spelers het die dag geniet.
“Die kompetisie is om mekaar te ondersteun. Dit vind een jaar by ons plaas en dan die volgende jaar by hulle, so rol die balle maar,” het die president van die Bronkhorstspruit Rolbalklub, John O’Connell, gesê.
Die kompetisie is ook om as rolbalvriende die dag te geniet en ook nuwe spelers bloodstelling te gee aan die spel.
Daar is twee rondes van 12 koppe elk gespeel.
“Ons is baie trots op Delmas wat ’n klomp nuwe spelers bygekry het.
“Dit is altyd mooi om te sien hoe jong spelers die spel geniet.
“Dit was vir Bronkhorstspruit ’n voorreg om Delmas te verwelkom en sien uit na volgende jaar,” het O’ Connell afgesluit.













