Groot kontantpryse wag op hengelaars by Park Lift-kompetisie by Unicordam
Die hengelaar in die senior-afdeling wat die grootste karp vaskap, sal R5 000 wen – en as daardie karp meer as 10kg weeg, vermeerder die prysgeld na R10 000.

Groot prysgeld is op die spel in die Park Lifting-hengelkompetisie wat op 11 Junie by die Unicordam plaasvind.
Die hengelaar in die senior-afdeling wat die grootste karp vaskap, sal R5 000 wen – en as daardie karp meer as 10kg weeg, vermeerder die prysgeld na R10 000.
Die tweede prys is R3 000 en die derde prys is R2 000.
Die pryse vir die grootste baber onder die senior-hengelaars (bo 12-jaar) is ook nie te versmaai nie.
Die hengelaar wat die grootste baber uittrek, wen R2 500.
Die tweede prys is R1 500 en die derde prys is R1 000.
Daar is selfs ’n troosprys van R500 vir die kleinste vis.
Kinders jonger as 12 jaar gaan ook om ’n stewige kontantprys kan meeding.
In dié afdeling sal die hengelaars wie se swaarste vis onder die top 10 deelnemers inweeg, ongeag van die spesie, ’n kontantprys wen.
Boonop kan deelnemers vir slegs R10 vir ’n gelukkige trekking inskryf en daarmee ‘n kans staan om vir al 10 trekkings deur die loop van die dag in aanmerking te kom.
Inskrywings is R200 per volwassene met twee vistokke en R100 per kind jonger as 12 jaar.
Die kompetisie sal aan die kant van die boer gehou word en staanplekke (penne) sal deur middel van ’n trekking bepaal word.
Die hekke maak om 06:00 oop en die kompetisie begin amptelik om 07:00 wanneer die eerste lyne natgemaak mag word. Die inweeg vind om 15:00 plaas.
Deelnemers moet in ag neem dat slegs kontant-transaksies gedoen kan word, want geen kaartgeriewe sal dié dag beskikbaar wees nie.
Dié dag sal niks jou aandag van die hengelwaters kan aflei nie – jy kan selfs kos by die kompetisie aankoop. Daar sal burgers wees teen R25 elk, worsrolle teen R20, heerlike pannekoeke teen R5 elk, koffie en beskuit teen R15 en ook koeldranke te koop wees.
Park Lifting bied dié kompetisie aan ten bate van Feral Watch & TNR, ’n dierewelsynsorganisasie wat daarop fokus om die aanteling van wilde katte te bekamp deur die diere te vang, te steriliseer en weer in hul kolonies vry te laat. So verseker Feral Watch ook die katte in hierdie kolonies se welstand.
Feral Watch & TNR is egter ook betrokke by ander diere-organisasies en help waar daar nood is.
Die bestuur van Park Lifting het op Feral Watch & TNR besluit juis omdat dié organisasie so ’n groot verskil in die omgewing maak, maar die enorme finansiële las daarvan self moet dra.
Alle opbrengste van die hengelkompetisie gaan aan Feral Watch & TNR geskenk word.
“Almal vergeet altyd van die katte en die impak wat dit op die mense wat intree om te help, soos Feral Watch, het,” het Tamsyn Nel van Park Lifting gesê.
Sy gaan die dag van die hengelkompetisie ook ’n donasie-stasie hou waar mense skenkings soos katkos, hondekos, komberse en selfs geld kan skenk om vir Feral Watch & TNR in hul reuse taak te ondersteun.
Om jou kaartjies vir die hengelkompetisie te bespreek en jou kans tot die prysgeld te verseker, skakel vir Herman by 083 321 8173 of vir Frans by 082 900 2563.
As jy die dag nie self by die hengelkompetisie kan wees nie, maar jy wil graag steeds tot Feral Watch & TNR se skenkings bydra, skakel vir Tamsyn by 079 502 2697.



